Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillemaandag: Destyds het jy jou skoene vir SA déúrgeloop

Ja-nee, soos ons seker maar kon verwag het, bly ou Ace in sy vyf spore presies net waar hy is. Eisj, ja, soos ’n groot, vet voorspeler wat by die skeidsregter ’n rooikaart kry en dan besluit om op die veld te bly, “want ék is kaptein en my vuiluilspan kannie sonder my verder speel nie en in elk geval speel ons span met ons eie stel reëls wat bepaal dat net óns rooikaarte mag uitreik. Daarbenewens belet ons reëls dat kapteins, onderkapteins, agtstemanne, vaskopstutte en skrumskakels rooikaarte kry. Maar ek sal my ná die wedstryd vrywillig onderwerp aan óns span se integriteitskomitee.”

Dik Daan skud sy kop oor dié komitee.

“Hulle is ongeveer so doeltreffend soos die opperbevel van Lesotho se duikbootvloot in die Caledonrivier,” brom hy.

Van vier rye spore en twee stelle reëls vir base en klase het ek al vroeg in my lewe in die staat se diens geleer. So krap ek verlede week deur so ’n ou lêertjie waarin ek goetertjies en pêlle se begrafnisbriewe gooi (gelukkig nie ’n te dikke nie) en kom toe af op “Administratiewe Instruksie nr. 12 van 1980: Gesubsidieerde skoene vir evalueerders.”

Daardie jare het die speknekke en die operasionele veldwerkers die voorreg van gesubsidieerde voertuie gehad. Die staat koop, jy ry en as jy genoeg gery het, is karretjie verkoop en die ou sakgeldjie in jou agtersak gebêre. Die arme ander Klase parkeer soggens hul ou vrot skedonkies amper by Delmas en loop hul skoene deur vir die staat, wat toe daartoe lei dat genoemde administratiewe instruksie die lig sien (of liewers die duisternis, want die outeur word 40 jaar later nog gesoek.)

Vier vyfdes van die toegewese afstandlewe van sodanige skoene is bestem vir amptelike diens en een vyfde vir werk toe loop asook vir kerk, dans, bergklim of soortgelyke aktiwiteite.

“Beleid: Die gebruik van gesubsidieerde skoene vir evalueerders en administratiewe personeel sal toegelaat word slegs in gevalle waar ’n beampte se pligte die blywende en gereelde gebruik van skoene noodsaaklik maak en waar die voorsiening van skoene in belang van die staat geag word. Vier vyfdes van die toegewese afstandlewe van sodanige skoene is bestem vir amptelike diens en een vyfde vir werk toe loop asook vir kerk, dans, bergklim of soortgelyke aktiwiteite. Die sekretaris bepaal, met inagneming van die aard van die diens waarvoor sodanige skoene benodig word, watter tipe skoeisel volgens grootte, sool, gehalte, veters, hakke, verwagte lewensduur en reuk voorsien sal word en wel volgens die volgende rangkwalifikasies: K-beamptes en laer: seilskoene en plakkies; J-beamptes: seilskoene en sandale; H-beamptes: seilskoene, sandale en Grasshoppers; G-beamptes: Bata’s (kunsleer); F-beamptes: kunsleer met ’n beskeie patroon, E-beamptes: egte leer (steeds egter met beskeie patroon).

“Verder word bepaal dat ’n paar skoene ’n minimum lewensduur van 60 000 km moet hê en op tenderbasis (minimum twee tenders) by ’n erkende skoenmaker versool sal word en uiteindelik verkoop mag word mits dié bedrag nie twee rand oorskry nie.”

Nou wonder ek, hoe het die gewraakte dokument (alle afskrifte is opgespoor en vernietig) in mý lêer beland?

Meer oor:  Menings  |  Stemme  |  Blouwillemaandag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.