Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillemaandag: Kon jy raai kat het ’n knie wat vervangbaar is?
Blouwillem

Die een ding wat ek deesdae gereeld leer, is dat ek nog baie het om te leer. En dat jy wel vir ’n ou hond of kat nuwe trieks kan leer.

So lees ek verlede week van die eerste knievervanging op ’n huiskat in Suid-Afrika daar by Onderstepoot (ag, ek bedoel poort) en ek leer toe iets waaraan ek nog nooit eens gedink het om aan te dink nie, naamlik dat ’n kat wel knieë het.

En toe dink ek as ek my hele lewe lank so woes moes rondgespring en kat-en-muis moes gespeel het, was my ou rugbyjigknieë nog baie meer kas toe as wat hulle nou is.

Nee, kyk, ons het gekattemaai, maar darem nie só nie!

Ek wonder toe of dit gewone veeartse was wat geopereer het en of jy so iets kry soos ’n ortopediese kat-arts. Dik Daan erken hy weet van katknievervangings so veel as ’n kat van saffraan, maar hy dink die ouens wat gesny het, het dalk nie gespesialiseer nie, maar eerder gekatkiseer.

“Maar hulle sou sekerlik die kat goed uit die boom gekyk het en darem seker hulself vir Covid en die arme kat vir katgriep laat toets het voordat hulle begin sny het.

Die goeie nuus is dat dié semi-beroemde ou katjie met die hogere naam Theophylline, weer katjie van die baan is.

“Jy maak seker en knyp mos nie sommer ’n kat in die donker nie,” sê hy. “Hulle én die pasiënt mooi katgriep-“compliant” gemasker en ja, jy pak natuurlik ook nie ’n katjie sonder handskoene aan nie, of hoe? As die kat Covid sou kry en die dokters katgriep, sou dit sekerlik kattestrofies wees.”

Maar “all’s well that ends well” en die goeie nuus is dat dié semi-beroemde ou katjie met die hogere naam Theophylline, weer katjie van die baan is nadat haar eienaars gevrees het dat sy nie ’n kat se kans sou staan om heelpoots anderkant uit te kom nie.

Nou ja, sulke tyd vat my maters se verbeelding oor en toe wonder neef Bartel of Theophylline besoekers kon ontvang en of Onderstepoot dalk nou so ’n toeloop gaan kry vir knievervangings dat ’n private hospitaalgroep soos Nege Lewens dalk die gaping sal vul. Ons loer maar solank die kat uit die boom uit.

Dis toe ook nie die einde van kata- en kattestrofiese nuus nie.

Lees ons van die kiets wat op ’n internasionale vlug tussen Soedan en Katar uit haar hok ontsnap en so katools geraak het dat dié kaperkater die loods aangeval en hom uiteindelik gedwing het om terug te draai Katar toe. Waarheen dan anders?

Nee, kyk, hierdie enetjie gee die term kwaadkat nuwe betekenis!

Neef Bartel sê hy dink nie eens Onderstepoot se narkose sou hierdie dame katswink gekry het nie.

’n Laaste flou katjie: Koos sit en “sulk” oor sy vrou se lieflingkat sy wat Koos is se laaste koue vleisie, waarna hy uitgesien het, opgevreet het. Vra sy vrou later: “ Hoekom so stil, my man, het die kat jou tong opgeëet?”

Kaaats!

Meer oor:  Blouwillem  |  Veearts  |  Kat  |  Knievervanging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.