Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillemaandag: Korporatiewe goëlaars slaan KSA vir ’n ses
Blouwillem

Om op hierdie derde wêkkerdag te moes besluit wat die verwarrendste deurmekaarspul in ons ou landjie se onlangse veelbewoë geskiedenis is, krieketpolitiek of ANC-politiek, was ’n moeilike roep.

Eisj en sy trawante en ander kalante se 30 dae- dreigement het gekom en gegaan, maar hy het nou nog nie eens sy skilderye gepak nie. En die kragtelose Niks Uitrigtende Kamerade (NUK) gaan seker uitstel gee.

Die maer, weifelende Nukkie staan voor ou Eisj, die skoolboelie, en trek ’n streep in die sand. “Klim nou net oor daai streep,” dreig hy met ’n bewerige stemmetjie. “Of wat?” vra die boelie bars. “Of ek trek nog ’n strepie,” piep Nukkie.

Om van krieket se chaos nie eens te praat nie. Ek luister dié week hoe neef Bartel aan Dik Daan probeer verduidelik hoe krieket nou eintlik hier te lande bestuur word. In Neef se woorde: “Krieket het nie ’n reëlboek nie, net art. 60 van die Maatskappyewet. ’n Krieketspan bestaan uit 11 spelers, van wie vyf lede van ’n lederaad is, drie lede van die tussentydse raad, twee kleurvolle kolwers en ’n minister wat hulle almal kan uitboul.

“Die lederaadslede se kwota moet bestaan uit een nie-uitvoerende lid wat self krieket gespeel het, twee nie-onafhanklike direkteure wat nog nooit krieket gespeel het nie, maar tog al op TV daarna gekyk het, en twee afhanklike lederaadslede wat niks van krieket hou of dit kyk nie (laasgenoemde kategorie mag wel in die losie Johnny Blue drink en garnale eet).

Wanneer die hele span homself ná 35 vergaderings uitgeboul het, is dit die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging wat moet kolf met tien boulers en ’n minister.

“Die span word gekies deur ’n sesbal-benoemingskomitee (wat minstens twee geokverstrooide rekenmeesters asook ’n minimum van twee goëlbalboulers moet insluit).

“Wanneer die hele span homself ná 35 vergaderings uitgeboul het, is dit die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging wat moet kolf met tien boulers en ’n minister,” verduidelik Neef. “Askies ou Bartie, kan jy dalk net weer stadig sê?” vra Dik Daan – uit die veld geslaan vir ’n ses.

En of bogenoemde twee sake nie verwarrend genoeg is nie, kry jy nog oom Jakob se hofsaak (en hofsake) met gedroste prokureurs en hofsake wat, soos dit lyk, nie in sý of ons leeftyd op ’n hofrol gaan verskyn om te begin rol nie omdat die rolmodel heeltyd jakkalsdraaie hardloop.

Gelukkig het prokureur Richard Spoor nou aangebied om oom Jakob kosteloos te verdedig net sodat hy sy langverwagte dag in die hof kan kry. (Ons wonder of prokureur Spoor besef dat Gupta-tipes waarskynlik steeds vir alle koste pa en ma staan.) Prokureur Spoor is duidelik bekommerd dat ons regstelsel die spoor byster kan raak, dié hofsake spoorloos van die hofrol af kan verdwyn en die oom (wat al jare lank nie meer sy morele kompas kan opspoor nie) spore Midde-ooste of wilde weste toe kan vat.

“Majoor, ons voel goor, want ons is hier op ’n Zoeloe se spoor en dit lyk of ons hom weer gaan verloor, oor.” (SAPD-radiokommunikasie, 31 Desember 2031.)

Meer oor:  Blouwillem  |  Richard Spoor  |  Sport  |  Krieket  |  Ksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.