Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillemaandag: Kovsies het SA beroof van ’n groot sakeleier

Oupa Piet was lewenslank mal oor syfers en veral interessante syferkombinasies.

Blouwillem

Hy het nooit die kans laat verbygaan om jou kop vol syfers te prop nie. Ry TP123 by ons verby, rem hy en wys. As CA7252 verbykom sal hy sê: “Bulla, kyk daar’s jou verjaarsdag!” en as die Borgward se mylmeter twee uur in die oggend tussen Brandvlei en Kenhardt op 99 999 myl staan, maak hy jou wakker om dié aardskuddende oomblik te beleef as die vyf versadigde nulle so stadig inrol.

As daar daardie tyd geld was sou hy vir seker ’n aktuaris of rekenmeester geword het en nie ’n baie goeie polisieman nie.

So dink ek dié week aan Oupa toe ou Leon ons Donderdagaand daarop wys dat dit op daai liewe oomblik 21 minute oor 21 uur op die 21ste dag van die 21ste jaar van die 21ste eeu is.

En toe dink ek daarna, slapeloos van pure opwinding, aan ’n gebeurtenis, amper presies op dié dag en datum 50 jaar gelede, wat gemaak het dat ek waarskynlik nooit mý inenting in Switserland sal kry nie.

Ek en ou Barry, my lewenslange standerd twee-pêlla, het klaar voete gestamp en moet gaan leer, maar waar?

My ouers voel ons moet bly net waar ons is (so onopwindend as jy agtien is) en sý ouers (rasegte Doppers) voel Potch is die plek.

Maar nee, intussen het ek en hy close-dans op die maat van Cry to Me en die koorsagtige Je t’aime by ou Piet se garagepaarties ontdek en voel ons daarom ons moet na ’n dansplek toe gaan om ons vir ’n toekomstige loopbaan te gaan voorberei.

Weet jy ooit waarvoor B Comm staan? Dit staan vir Boetie Comm huis toe jou swaap.

Dis hoe ons toe in die derde week van Januarie 1971 dik geslaap op die stasie in Bloemfontein aanland en daarna, weens ’n gebrek aan taxi’s, Ubers en riksjas, ure later sopnat gesweet met al ons bagasie by Reitz-kamerwonings opdaag. Maar tot óns verdriet en die vreugde van die huiskomitee wat ons summier in die werk steek, is ons drie dae vroeg.

Barry gaan regte swot, maar ek moet nog besluit: brandweer of polisie? Die dag toe ons inskryf lyk die B Comm-tou vir my die kortste.

Daardie aand is die seniors op ons en word ons deur booswigte soos oom Ysterkop, Die Mens, Joggie en Tom met sy woeste Yskor-vakansiebaard teen die muur vasgedruk en dis net daar wat my lewe ’n heel ander, onverwagse rigting inslaan.

Hulle sê mos heel tereg (veral in hierdie dae): “Life is something that happens to you while you’re planning other things.”

Dice Booysen gryp my aan die keel en grom: “Eerstejaar, wat swot jy?!”

“B Comm, oom.”

“Weet jy ooit waarvoor B Comm staan?”

Ek skud my kop eerbiedig.

“Dit staan vir Boetie Comm huis toe jou swaap.”

Die volgende oggend, toe administrasie oopmaak, verander ek na BA en so is Suid-Afrika ’n gesiene sakeleier kwyt en ék my inenting in Switserland. Nou ja, so val die dice maar seker.

Meer oor:  Studies  |  Ba  |  Studeer  |  Kovsies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.