Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillemaandag: Salomo moes fyntrap met al die skoonma’s
Blouwillem

Verlede week het ek en my ou maters se hare so regop gaan staan soos ou Kobus Wiese s’n wiese hare al so lank ons hom ken so penregop hemelwaarts wys.

Terloops, hoe op aarde bly sy kuifie jaar in en jaar uit so kiertsregop? Sou daar stysel of die een of ander pilletjie by betrokke wees, of trek hy elke oggend die kapsel met ’n stofsuier dak se kant toe?

Ag, wat, ek wat al van st. 9 af net my bles met ’n waslap platvee, is seker maar net weer jaloers.

Maar terug na die oorsaak van ons maters se eie regop hare, naamlik die minister van binnelandse slape se besprekingsdokument oor voorgestelde veranderinge aan ons huwelikswetgewing wat in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer is.

In dié dokument word mos voorsiening daarvoor gemaak dat ’n vrou in die toekoms wettig met meer as een man getroud kan wees.

Neef Bartel het so goed hy kan vir die geskokte Dik Daan probeer verduidelik dat poligamie of poliginie is wanneer ’n man soos oom Jakob ’n veelwywer is, ’n bigamis ’n ou is wat dieselfde fout twee keer maak, ’n man wat net een vrou te veel het, ’n monogamis is, en ’n ou wat te bang is om die stywe strop om sy nek te kry, ’n veelwyfelaar.

Wat sal gebeur as al vyf mans die aand gelyk tyd met die mammie wil deurbring?

Maar toe probeer hy verduidelik van ’n poliandriese huwelik, waar ’n vrou gelyk getroud kan wees met meer as een Andries, en dis toe net daar wat hy vir Daan verloor.

Daan sê dit laat hom dink aan die ou wie se vrou hom gelos het vir ’n skatryk liefie en toe beleefd gevra het of hy dalk kan saam trek na die nuwe kêrel se plek toe.

“Maar manne, dit mag gerieflik klink as die ekstra ou in die huis ’n skatryk handy man is wat als kan regmaak en hou van gras sny en blomme rangskik, maar ek stem saam met eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP wat amptelik wonder wat sal gebeur as al vyf mans die aand gelyk tyd met die mammie wil deurbring.”

Neef Bartel se oplossing is heel eenvoudig. “Dit kan mos werk soos deeltyd,” reken hy. “Die Andries met die sakke vol geld wat rugby haat, gaan vir mammie met sy Porsche uitvat vir ete en die ander vier perde gaan hul rustig met ’n biertjie voor die TV op die agterste porch uitstrek om rugby te kyk. Almal, mammie inkluis, is hêppie.”

Neef het maar besluit om ter wille van Dik Daan se brose hart nie nog te verduidelik van poliamorie ook nie. Om te hoor van ’n vrou wat met ’n ander vrou én ’n paar ekstra mans getroud kan wees, sal vir hom net te veel vir een week wees.

Soos dit is, kon Daan dit nog nooit kleinkry dat so ’n wyse man soos koning Salomo 700 vroue en 300 byvroue kon aanhou nie.

“700 vrouens is een ding, my maat, maar 700 skoonma’s!”

Meer oor:  Blouwillem  |  Salomo  |  Skoonma  |  Poligamie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.