Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillemaandag: Spuit my nou, in Vrede of in my linkerboud

Uiteindelik kan ons oues van dae nou vir ons sommer so lekker op die rekenaar ’n ou plekkie bespreek waar hulle ons gaan inent teen die Groot Virus.

Wanneer en waar daai plekkie is waar hulle ons gaan inent, sal seker darem hopelik so tussen die oordeelsdag en die huidige spul se laaste dag in die saal bekend raak.

Maar in ons ou landjie moet ons seker maar vrede maak daarmee dat spuit altyd te laat kom. En terloops, as ek ’n keuse sou hê van ’n plekkie waar ek geprik moet word, sal dit maar seker in Vrede in die Vrystaat of in my linkerboud wees.

Dik Daan sê die een ding wat hom erg bekommer is watter van die dipgoed wat half werk, amper werk, dalkies werk of werkloos is, ons mee ingespuit gaan word.

“Ek sê jou, ek vat my oorlede ma se vergrootglas saam en as daar iets op daai botteltjie staan wat net naastenby lyk soos Mandaryns, Latyns of Russies, laat waai uit ek daai tou uit met die spoed van wit lig.

“Hulle sal my nie eens met die nuwe taakmag of die ou reccies vasgedruk kry nie.

“Terloops, hoe ver dink jy het hulle nou al gevorder met die gesondheidswerkers?” wil hy by my weet terwyl hy weet dat ek niks weet nie.

Ek weet eintlik nie eens of toordokters en geloofsgenesers tel nie.

Daan reken die een geluk is dat die gewone ou wat ’n dop vat, in elk geval nie die verskil tussen griep, Covid-19, ’n babelaas of ’n newe-effek ken nie.

En oor newe-effekte wonder ek en my ou maters ook. Daan reken die een geluk is dat die gewone ou wat ’n dop vat, in elk geval nie die verskil tussen griep, Covid-19, ’n babelaas of ’n newe-effek ken nie.

Neef Bartel sê hy hoor van ’n ou wie se sig ná hy ingeënt is, so aangetas is dat hy skaars terug huis toe kon ry.

En by die huis gekom, het hy sy hekpaal merdes toe gery. Sy vrou bel toe baie ontsteld die inentingsentrum en vertel van hul krisis. “Mevrou, bring hom onmiddellik terug dat hy sy bril kom haal!”

Die rot ruik dié week vir my nog erger nadat ek moes lees van ou Eisj se besoek aan oom Jakob daar by sy rondawels en Eisj se op en afspringery (in sy eie gevleuelde woorde) oor dié heuglike reünie.

Dis ’n ander reukie as die storie van die peperduur Molecule 01 -parfuum wat na niks ruik wat daar in Engeland van die rakke vlieg teen R2 400 per botteltjie.

Ook net die Ingelse wat iets kan verkoop wat absoluut geen “scents” maak nie. Jou vrou of meisie koop van daai, vra wat ruik jy en as jy antwoord “absoluut niks,” klap sy jou en laat jou vir Covid-19 toets.

Ja ou Eisj, jy dink verniet ons ruik nie die rot nie.

En onthou dis beter om nou lessenaar en rekenaars te gaan skoonmaak en skilderye te pak. Daar waar julle karnallies heengaan, gaan daar nog baie tyd vir geselsies wees.

En julle kry ook elke dag ’n uur vir op en af springery.

Meer oor:  Bejaardes  |  Pandemie  |  Blouwillemaandag  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.