Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillemaandag: Tatjana en ou Rassie verdryf die winterkoue

Blouwillem
Blouwillem

Eers Tatjana Schoenmaker se swem daar lank voor die eerste oggendkoffie (ja-nee, natuurlik het ek die wekker gestel!), toe ou Rassie Erasmus se gatskopvideo en toe Maerpiempie en die ander iempies se soete wraak teen die Blekes.

Kyk, mense, dis een ding om op ’n klammerige rugbyveld stof in jou teenstanders se oë te skop, maar om dit in ’n swembad reg te kry, wil gedoen wees.

Ons ken mos vir Rassie as ’n man met ’n sak vol planne van doerie dae af wat ek my hart vasgehou het toe hy met sy diskoligte daar bo-op die Vrystaatstadion se dak gesit en orders per ligpos gestuur het soos ’n verspieder in die Boereoorlog. En nou in die Derde Boereoorlog slaag hy daarin om binne ’n week sommer vier skeidsslegters gelyk eerlik te kry.

Dik Daan sê hy wonder of Rassie nie sommer vanoggend die video in Frans moet laat oorklank vir eerskomende Saterdag se Fransmannetjie se gerief en nadenke nie. “En ek sê jou, as die rugbybase hom gaan straf met ’n boete of skorsing, begin ons sommer ’n aftreefonds en noem dit iets soos ‘Rassie se oudagkassie’.”

Nee, jy móét bo begin, maar om dan bo te bly, is die kuns.

My verspieders daar by die Britte vertel dat Warren Gatland se rooies die vorige Saterdag daar in hul borrel anderkant Hermanus tot vyfuur die oggend gekattemaai het, maar hierdie week voor grendeltyd al in die kooi was. Vat hulle, Dawie, vat hul laag, laat die Boere slaag!

Maar vir ’n oomblik terug na swem. Dis mos die een sportsoort wat jy nie van heel onder af kan bemeester nie, want dan sal jy verdrink.

Nee, jy móét bo begin, maar om dan bo te bly, is die kuns. En as ’n ou swempa wil ek graag hier ’n lansie breek vir René Schoenmaker en alle ander swempappies.

Dis nou daai ou wat donkertyd en lank voor die eerste oggendkoffie vir sussie swembad toe vat. En moenie vir een oomblik glo dat swem ’n somersportsoort is nie. Nee, winter en somer vat jy vir sussie swembad toe, gaan stort gou en op pad werk toe laai jy vir sussie op en vat haar skool toe.

Ja, en naweke hou Pa Schoenmaker tyd by sussie se gala as die ander manne by die rugby is en vakansies ry pappie met sussie kampioenskappe toe na eksotiese plekke soos Newcastle en Phalaborwa. En na kusplekke waar die swemklubs so eksklusief is dat die gety nie eens daar kan inkom nie.

En dan van al daai honderde en duisende sussies deur die jare is daar ’n Penny Heyns en ’n Tatjana en dan is ons almal bly vir hul part, want hulle wen nie net nie, hulle wen nog mooi ook.

Dáái glimlag, daai opregte drukkies, daai maskertraantjies as die volkslied speel maak die week ’n ekstra lekker week vir ons almal.

Dankie, meisiekind, jóú pappie én ons almal is trots op jou!

Meer oor:  Tatjana Schoenmaker  |  Rassie Erasmus  |  Sport  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.