Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillemaandag: Vele voordele as ’n vrou die fluitjie blaas
Blouwillem

Dit was omtrent vir jou ’n geskiedkundige naweek hier in Tshwanetoria met die Bulle wat vir ’n slag weer silwerware in hul afgeskeepte, stowwerige trofeekas bygekry het.

Geluk aan al my ou moedelose blou vriende, wat sommer weer lyk of hulle ’n nuwe kleinkind ryker geword het.

Net so geskiedkundig was dit natuurlik dat ’n aanvallige skeidslegter met ’n poniestert in dié belangrike wedstryd die fluitjie hanteer het. En dan is die streng, dog vriendelike Aimee, soos Charlize en Vloog Theron, nogal ’n vangenoot van my ook!

Dik Daan reken die speknekblasers moes eintlik jare gelede al dames as skeidslegters begin gebruik het. Hy het waarskynlik ’n punt beet, want gaan kyk na enige kleinkannetjierugby op ’n Saterdag as jy wil hoor hoe goed die mammies die reëls ken.

Daar vroeg in die tagtigs het ek en Jo saam so ’n bulletjiespan met sesjariges probeer afrig.

Eintlik draai jy maar net die kleintjies soos daai Duracell-batteryhase in die hardloop om as hulle op die verkeerde doellyn afpyl.

’n Vrou sal nie vinnig oortredings vergeet nie, so jou kans om ’n rooi kaart te kry vir iets wat jy drie jaar gelede op die veld aangevang het, is baie goed.

Daai Saterdagoggend is dit my beurt om skeidslegter te probeer wees.

Die mammies staan bankvas en is heelwat meer as die pappies (wat natuurlik moet gholf speel), en vriende, dáár verduidelik veral een so ’n groepie mammies toe die hele eerste helfte vir my presies hoe min ek nou eintlik van dié ovaalbal-spulletjie weet (as hulle net moes weet hoe min ek deesdae van die reëls verstaan)!

Halftyd stap ou Frikkie so rustig met sy sigaretjie oor die veld na dié kundige groepie, glimlag op sy mooiste en groet vriendelik, want as ou buffeljagter was hy diep bewus van die gevaar toe hy hulle van die volgende opregte stukkie raad bedien: “Dames, julle sal moet leer ontspan, anders gaan julle nooit matriek haal nie.”

Daan sê een van die groot voordele van ’n dame as skeidslegter in so ’n mannegestoei is dat ’n vrou nooit ’n fout wat ’n man maak, sommer sal miskyk nie.

Nog ’n voordeel is dat die manne op die kantlyn, selfs as hulle dink dat sy haar rugbyreëls uit Kook en Geniet geleer het, nie die lelike goed vir die ref kan skree waarvan hulle ’n reffie gewoonlik bedien nie.

“Al probleem,” voeg hy peinsend by, “is dat ’n vrou ook nie vinnig oortredings vergeet nie, so jou kans om ’n rooi kaart te kry vir iets wat jy drie jaar gelede op die veld aangevang het, is baie goed.”

Dit laat neef Bartel wonder of regter Sonde nie eerder ’n vrou moet kry om die ou droster daar uit sy hut in Nskandalig na die Sondekommissie te gaan sleep nie.

“Ek moet ter versagting sê dat as ék dwarsdeur hierdie grendeltyd soos hy saam met vier vroue in die hoeke van ’n ronde rondawel vasgekeer was, ek ook dalk al sou getender het vir ’n bietjie korterige, ligte tronkstraf. En hy ís mos ’n ou karnallie wat ken van tenders.”

Meer oor:  Blouwillem  |  Skeidsregter  |  Sport  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.