
Blouwillem
Ek moet sê dit kom vir my baie natuurlik om iets soos Swart Vrydag, Swart Week of Swart Jaar te boikot.
Ek is wild vir enige winkelsentrum groter as ’n tennisbaan en daai ou fobietjie van my raak net erger hoe nader ons elke jaar aan Kersfees kom. Trouens, my Desember-geluk is in direkte verhouding tot my afstand van die naaste groot malhuis en Boney M se Kersmusiek.
Op dié manier het ek Vrydag blitsig ongeveer R7 000 gespaar deur nie, soos my familie gehoop het, ’n TV te gaan koop wat groot genoeg is om Kobus Wiese en Toks van der Linde gelyk te kan kyk nie. Hulle moet maar nog ’n jaar so een-een verskyn.
Dik Daan sê hy het Vrydag my prysenswaardige voorbeeld gevolg en elke halfuur absoluut niks gekoop nie, maar hy bieg hy was darem weer apteek toe om homself op hul skaal met die gewiggies te laat weeg toe hy hoor hulle gee soos laasjaar 35% af.
“En daar pas al my klere weer!” spog hy. “Maar my maat, hierdie buurman van my is ’n perd van ’n ander kleur op enige kleur Vrydag.
Hy het op diw brak 25% afgekry en hulle is tevrede dat hy die res van die hond (van sy blaaie af tot sy stert se punt) oor ses maande afbetaal.
“Hy kry mos van daai deng versekeringsmaatskappy ’n uitnodiging vir 20% afslag op alle troeteldierversekering (iets wat nie ek of hy eens geweet het bestaan nie).
“Hy bel toe een van daai lang nommers om te hoor of sy vroutjie ook as ’n troeteldiertjie kwalifiseer, maar nodeloos om te sê, hul antwoord is toe dat dit ’n regte, verkieslik harige, diertjie moet wees (en witrotte tel nie).
“Nou ja, Buries kan nooit nee sê vir enige ‘special’ nie en wat maak hy?
“Hy gaan koop op Swart Vrydag ’n swart hond wat nou al heel naweek hier teen my draad staan en tjank, maar Buries is doodtevrede, want hy het op dié brak ook 25% afgekry en hulle is tevrede dat hy die res van die hond (van sy blaaie af tot sy stert se punt) oor ses maande afbetaal.”
’n Ligpunt op hierdie swart naweek was darem ou Frik se 85ste verjaarsdag.
Vriend Dana het hom so mooi gelukgewens dat ek nie woorde het nie, behalwe geluk, Frik! Toe ou Frik ons vyf jaar gelede nooi na sy 80ste, moes ek met ’n swaar hart verduidelik dat Seun op dieselfde dag daar in Heidelberg se wêreld trou.
Frikka sê toe so heel rustig vir my ek moet mooi daaroor nadink. “Jy weet,” sê hy, “jou seun kan altyd weer trou, maar ek word net eenkeer 80.”
So, ons was hierdie naweek diep dankbaar dat Seun-hulle se huwelik én ou Frik nog hou!
Ja, mense, waar’s die dae toe Frik en ou Toy-hulle massiewe T-bene en berge “chips” voor ’n wedstryd geëet het om op te warm en toe die Curriebeker se staanplek nog op die veld en nie deur weerlig en virusse bepaal is nie.
G’n wonder nie dat ons hoor Plascon gaan die vroueskeidslegters borg om ’n bietjie meer kleur aan ons rugby te verleen.