Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bly koelkop in 2019-verkiesingstyd
Stefan Botha

Die sesde provinsiale en nasionale verkiesing van ’n demokratiese Suid-Afrika sal heel waarskynlik op die eerste Woensdag van Mei plaasvind.

Dit gee ons ongeveer vier maande van drama en ’n chaos. Baie leë beloftes, ’n see van kleurryke plakkate teen elke lamppaal, populistiese en vreesaanjaende toesprake en uitlatings, politici wat babas soen en nou ewe skielik wil luister na ons probleme, gedurige oproepe en SMS’e met verkiesingsboodskappe, asook manipulerende opmerkings oor omstrede nuusgebeure, is van die giere wat die verkiesingstyd oplewer.

Die drama en sogenaamde rassisme op Clifton se strand, die EFF se aanval op die Barbie-poppe en die Vodacom-winkel, die politieke geweld en moorde en die onwettige grondroof is maar slegs ’n voorsmakie van wat wag. In hierdie tydperk van politieke onsekerheid en die stryd om mag vir die Uniegebou en parlementêre setels is dit die koelkoppe wat gaan seëvier. Ons gewone Suid-Afrikaners is die pionne van die politieke elite wat veg om die koningskap en ons wil manipuleer om hulle te beskerm.

Dit is belangrik om in hierdie tydperk te onthou dat die media meestal die negatiewe stories dek en dít deel wat omstrede is.

Die media is intussen die koningin van die skaakspel wat die grootste invloed gaan hê. Die openbare mening en mentaliteit word immers regstreeks deur die media gevorm. Daarom kan ons as die pionne saamspeel en deel raak van die vuilspel, of ons kan die bord verlaat, die sirkus van die kant af aanskou en dan met ’n nugter gees ons kruisie gaan trek.

Dit is belangrik om in hierdie tydperk te onthou dat die media meestal die negatiewe stories dek en dít deel wat omstrede is. Daar is beslis meer positiewe en mooier stories in ons land.

Hou ook die volgende in gedagte wanneer dit kom by populistiese uitsprake: Om paniekerig te raak en op die sensasiewa te spring oor ’n probleem wat nog nie eens ontstaan het nie, kan erger en gevaarliker wees as om kalm en oopkop op ’n werklike probleem te reageer.

Wees ook op die uitkyk vir misleidende truuks wat op sosiale media verskyn.

Wees ook op die uitkyk vir misleidende truuks wat op sosiale media verskyn. Organisasies en partye gaan stories uit konteks ruk om ander se agendas te ontspoor. Luister na wat ’n party vir jou van hulself sê. Hou verby wanneer ’n party vir jou sê wat ander gaan of nie gaan doen nie.

Sommige gaan die kiesers probeer bang maak en die vreestaktiek gebruik om te waarsku teen wat dalk kan gebeur. Sosiale media is die een plek waar dit werklik lelik gaan raak. Maar onthou, dit verteenwoordig slegs ’n eggokamer waar mense op dieselfde trant ’n punt probeer maak en met dowe ore op mekaar skree.

Die grootste fout wat jy in hierdie tydperk kan maak, is om na Facebook-propaganda te kyk, jou brein te besoedel met die kommentaarafdeling op dié publikasie en dit toe te laat om jou mening te vorm en gedagtes te oorheers.

Die geval by die Laerskool Schweizer-Reneke is maar een so ’n voorbeeld. Elke party en organisasie gaan ’n mening uitspreek en dit gebruik as ammunisie. Politici en aktiviste lewe vir sulke voorvalle. Dit gee hulle die geleentheid om ’n bohaai daaroor te maak en sodoende relevant te bly. Maar dit is ons reaksie op daardie bohaai wat die verskil maak. Ons kan deel wees van die manewales, of dit met ’n knippie sout neem en fokus op wat werklik belangrik is.

Botha is ’n student in politieke wetenskappe en internasionale betrekkinge aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Verkiesing  |  Propaganda  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.