Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bly tuis, en jy spaar 100% pleks van 50%
Blouwillem Theron

Nee, kyk, hulle het alles onder die son probeer om my Vrydag daar in die winkels te kry, maar helaas, ek het vasgestaan.

My koerant het die vorige week of wat minstens drie bome se advertensies ingehad waaraan ek my afgevee het en Vrydagoggend het ek my kar gaan ingee vir ’n vakansiediens net om seker te maak dat ek nie sou swig voor versoekings nie.

Ek het darem nie soos ’n ander ou maat plastiese chirurgie gebruik en my vrou se kredietkaart met ’n skêr bygekom nie, maar tog seker gemaak dat ek dié dag 100% bespaar deur elke halfuur vir ’n uur by die huis te bly.

Dik Daan bieg darem dat hy ’n vrieskas vol botter gaan koop het en met oopmaaktyd al by die apteek was om homself te laat weeg, nadat hy gehoor het dat alles 50% af is. Ek het maar eerder nie uitgevra oor die uitslag nie (of dalk eerder “uitspraak”, wanneer ’n mens van ’n skaal praat).

Een gelukkie is darem dat Eskom, selfs met sy nuwe ruiter, toe nie sy Black Friday-“special” betyds gereël kon kry nie.

Net die tyd (of die bankbestuurders) sal leer hoeveel ouens Vrydag geld wat hulle nie gehad het nie, uitgegee het op goed wat hulle nie nodig het nie.

Daai ou wat Saterdagoggend wakker geword het, kombuis toe geloop het en toe tot sy stomme verbasing gesien het dat sy gesin nou die trotse eienaars is van twee yskaste, twee ketels én twee mikrogolfoonde.

Maar nou ja, ons wil mos met alles agter die Yanks aankarring.

Maar nou ja, ons wil mos met alles agter die Yanks aankarring.

Die daaglikse nuus hou darem net nooit op om ’n mens te verbaas nie.

Verlede week weer sien ons dat ons eie seesoldate met ons enigste drie bote wat nie opgeroes is nie, besig was met vlootoefeninge in die Kaapse waters. En dít saam met die Russe en die Chinese, ons beste tjommas saam met wie ons desedae so lekker hand om die blaas en ander organe is.

Neef Bartel sê as hy reg onthou wat hy op skool geleer het, is die doel van dié oefening waarskynlik om die Kaapse seeroete teen die kommuniste te beskerm.

En toe vang twee koerantplakkate ook skielik my oog: “Brand in Die Hel” en die volgende dag: “Die Hel gesluit weens brand”.

Maar, dink ek dadelik by myself, dit kan mos sekerlik nie nuwe nuus wees nie, of hoe?! Dié plek is mos sekerlik brandbestand?

En is dit nie die plek waarteen al die dominees my gewaarsku het vandat ek ’n klein kannetjie was nie, wonder ek verstom.

Tot ek later die dag hoor, nee dis ons eige Hel daar in die Gamkaskloof. Hulle sê toe die brandweermanne daar deur Prins Albert jaag, skree ’n oom: “Waarheen jaag julle?”

“Hel toe oom!”

“Nou ja, manne, sê groete daar vir Hitler en die ander spul kommuniste!” skree die oukêrel agter die stofwolk aan.

Meer oor:  Kooplus  |  Black Friday  |  Winkels  |  Swart Vrydag  |  Die Hel  |  Amerikaners  |  Inkopies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.