Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blydskap in die tyd van ’n pandemie

Die Blydskap-projek
Dis maklik om te midde van ’n pandemie swartgallig te word. Johannes de Villiers deel vier wenke om jou lewe in dié tyd met ’n bietjie vreugde te vul.

Vandag is glo Internasionale Blydskap-dag, maar hel, dit voel nie so nie.

Ernstige kieme is in omloop en bedreig veral ons bejaarde familielede. Baie mense wat reeds op ’n hongerloon oorleef, gaan nou nog hul inkomste ook verloor as hulle in “self-kwarantyn” gaan.

Hoe vermy ’n mens die byna onvermydelike swartgalligheid in ’n tyd van pandemie?

Die positiewe sielkunde is ’n vertakking van die wetenskap wat die laaste twee dekades of so indiepte-studies doen om vas te stel wat mense gelukkig maak. Dié vakgebied gee ’n paar wenke:

1. Gee drukkies – vir jou hond!

In ’n tyd dat ’n handdruk net so sosiaal onaanvaarbaar soos rook geraak het, kan jy beslis nie meer mense soen of druk nie. Dis jammer, want as jy mense drukkies gee, skei jou lyf gewoonlik ’n hormoon genaamd oksitosien af – die liefkry-hormoon. Herken jy die warm gevoel in jou bors as jy ’n ouer of vriend ’n drukkie gegee het? Dis oksitosien.

Daar is goeie nuus: Volgens die Amerikaanse positiewe sielkundige Catherine Sanderson hoef jy nie ’n mens ’n drukkie te gee om jou goedvoelhormone te stu nie – ’n hond werk net so goed.

Volgens Sanderson het studies getoon dat die bloed van vroue wat met honde in aanraking kom, meer oksitosien bevat. Kinders met honde in die huis is rustiger en vaar beter in eksamens. En mense wat van hartoperasies herstel, kom gouer op die been as hulle ’n hond het.

2. Gaan buitentoe – veral as jy in Noordwes woon.

Die natuurkenner Gordon Orians het al in studies vir ’n klomp mense van oor die wêreld foto’s van verskillende natuur- en klimaatstreke gewys het – en daarna hul gemoed getoets.

Die klimaatstreke wat mense die gelukkigste maak, het Orians bevind, is Suid-Afrika se Bosveld en die grasvelde in Oos-Afrika. Orians meen dit is dalk omdat die mens sy oorsprong hier in Suid-Afrika het en gevolglik op sy gelukkigste hier is.

So as jy gelukkig is om jou iewers te bevind waar daar doringbome is en die vinke raas, kan jy dit gerus benut.

3. Sing

Dalk het jy al die internetvideo’s gesien van die Italianers wat weens die koronavirus in hul woonstelle in kwarantyn is en die tyd verwyl deur op hul balkonne te staan en opera sing. Hulle het ’n punt beet!

William Broad, ’n wetenskapjoernalis van die New York Times, het ’n ruk gelede navorsing gedoen oor hoekom joga mense so gelukkig maak. Joga is ’n dissipline wat mense leer om onder meer baie lank en stadig uit te asem terwyl hulle hul lywe in sekere posisies knoop.

Broad het op verskeie wetenskaplike studies in vaktydskrifte afgekom wat toon dat as ’n mens langer en stadiger uitasem, manipuleer jy die koolstof-suurstof-verhouding in jou bloed, wat jou gelukkiger laat voel.

En nou die goeie nuus: Jy hoef nie joga te doen nie – om te sing het dieselfde uitwerking. Probeer dit self.

Wanneer jy sing, moet jy vinnig asem skep, waarna jy stadig uitasem terwyl jy die woorde vorm.

As jy alleen by die huis sit, het jy ’n gulde geleentheid om al jou gunstelinge uit die Psalms-en-Gesangeboek deur te werk.

4. Handwas-meditasie

Teen dié tyd het jy seker reeds die wydbekende navorsing gesien dat meditasie en bewustelikheid (mindfulness) ’n mens gelukkiger kan maak. Deur die vreesgedagtes in jou kop te laat staan en net ’n paar tellings lank te fokus op wat jy met jou sintuie in die oomblik belewe, kan jy jou gemoed verhelder.

’n Meditasie kan so kort as 20 sekondes wees … net solank as wat dit vat om jou hande te was.

So, noudat ons meer gereeld hande was, het jy al daaraan gedink om dit ’n meditasie te maak? Skakel net vir daardie 20 sekondes jou gedagtes af en konsentreer op jou sintuie. Hoe voel die seep in my hande? Hoe voel my vel wanneer ek dit skrop? Ruik ek die seep? Hoor ek die water in die wasbak?

Dit kan een kort stukkie vrede wees in ’n dag wat andersins met bekommernisse en geraas gevul is.

  • Johannes de Villiers is die skrywer van Blydskap – mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe, en aanbieder van Netwerk24 se podsending, Die Blydskap-projek. Luister Maandag na ’n nuwe aflewering van dié podsending op Netwerk24.

Wat is ’n podsending?

’n Podsending is soos ’n radioprogram waarna jy aanlyn kan luister.

LUISTER NA EPISODE 1

In die eerste aflewering van die Blydskap-projek vertel Johannes de Villiers van die klein aanpassings wat jy kan maak om jou lewe met ’n bietjie meer vreugde te vul

LUISTER NA EPISODE 2

In die jongste aflewering van die Blydskap-projek, gesels Johannes de Villiers oor die kuns van mindfulness en hoe om jou “vriende” elke dag rondom jou raak te sien.

LUISTER NA EPISODE 3

In dié aflewering van die Blydskap-projek, vra Johannes de Villiers: Is enkellopendes régtig ongelukkiger?

Meer oor De Villiers se nuwe boek

“Dit help nie jy wag totdat jou lewe perfek is voordat jy jouself blydskap gun nie. Maak nóú ruimte vir blydskap, kom tuis in jou vel ongeag waar jy in jou lewe is. En kyk dan hoe dinge in plek begin val.”

Lewensvreugde is moontlik vir elkeen. Met praktiese wenke – van meditasie tot stappies in die buitelug – en raad deur kenners wys hierdie boek hoe dinge soos leefstyl, ouderdom, huwelikstatus, inkomste en selfs jou hond jou luim beïnvloed. Johannes de Villiers, ’n kenner van meditasie en mindfulness, het vreugdevolle mense op onverwagse plekke gaan opsoek – in kloosters, in ’n voormalige oorlogsone, in ’n Suid­Afrikaanse tronk – en dié mense gevra hoe hulle dit regkry om gelukkig te wees. Elkeen kon ’n blyer blik op die lewe aanleer: Jy kan ook.

“’n Wekroep tot deernis, stilte én aksie … Hierdie boek kan werklik jou lewe verander.” – Erns Grundling

Wil jy die boek koop?

Blydskap - Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe is teen R275 by alle goeie boekwinkels te koop.

Lesers kan dit ook aanlyn by TakeAlotUpper Case BooksExclusive Books en Loot koop.


    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.