Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Boedel oorgee net begin
Daar is ander maniere om ongelykheid te takel as om boedels aan die staat oor te dra, sê die skrywer.Foto: istock

Die grondwetkenner prof. Pierre de Vos se onlangse voorstel om ongelykheid reg te stel is nogal ingrypend: Dra mense se boedel in hul geheel aan Jan Taks oor (of belas dit ekstraswaar) en keer só dat apartheidsrykdom aan ’n volgende geslag gegee word.

De Vos se blog hieroor is versigtig bewoord en verkennend. Die kruks is dat ongelykheid so vernietigend is dat niks minder as ’n drastiese ingreep soos sy boedelplan Suid-Afrika uit die moeilikheid sal kan hou nie. Hy stel dit ook duidelik dat die somme om sy voorstel nog nie gedoen is nie.

Eers net dit: Een generasie se boedels gaan nie naastenby genoeg wees om die skade van 300 jaar se kolonialisme en 50 jaar se apartheid ongedaan te maak nie. Ons praat dus eintlik hier van ’n oorkoepelende belastingformule wat armoede stelselmatig sal kan uitwis.

Dit is ’n vraagstuk waarmee James Mirrlees, ’n wiskundige en ekonoom van Oxford-universiteit, reeds in die 1960’s begin worstel het: Hoekom lei hoër belasting vir rykes selde tot groter gelykheid in ontwikkelende ekonomieë?

Sy gevolgtrekking was dat belastingplanne dikwels faal omdat dit met “asimmetriese” inligting werk.

Jan Taks het ’n onvolledige prentjie, amper soos wanneer iemand ’n tweedehandse motor koop – die verkoper het meer inligting (die ratkas en ringe is gaar) as die koper.

Volgens Mirrlees werk ’n land se belastingowerheid eintlik met net een brokkie inligting – hoeveel geld jy verdien.

Volgens Mirrlees werk ’n land se belastingowerheid eintlik met net een brokkie inligting – hoeveel geld jy verdien. ’n Plan om ryk mense swaarder te belas klop dalk op papier, maar dit verreken nie hoe belastingbetalers daarop gaan reageer nie. Saam met hoër belasting kom die risiko dat produktiewer mense ander planne gaan beraam om die vrug van hul arbeid te beskerm, en kort voor lank is die staatskas leër as voorspel.

Mirrlees het uitgebreide wiskundige berekeninge om asimmetriese inligting gedoen en in 1971 een van die invloedrykste referate van die dekade daaroor gepubliseer. Sy gevolgtrekking? Die optimale belastingkoers om armoede uit te roei is 20%, ingesamel oor die breedste basis moontlik.

Sy formule het sedertdien grootliks ongeskonde staande gebly en in 1996 is die Nobelprys vir ekonomie aan hom (en William Vickrey) toegeken.

Vergelyk nou Mirrlees se koers van 20% met die situasie hier.

Ryk mense betaal meer as 40% inkomstebelasting, plus munisipale belasting, plus 15% BTW, plus ’n brandstofheffing, plus kapitaalwinsbelasting, plus . . .

Glo my, voordat die ink droog is op enige ekstreme nuwe boedelwetgewing, sal omtrent alle erfgeld reeds in rekeninge elders lê.

En kort op hul hakke sal die erfgename na Londen, Perth en Dubai uitwyk en daarmee saam sal Suid-Afrika ’n leeftyd se belastinginkomste van die volgende geslag verloor – ’n tamaai bedrag en waarskynlik ’n onomkeerbare slag vir gelykheid.

Is daar ’n beter oplossing? Wel, kom ons doen ten minste die som om te sien wat sal gebeur as ons BTW van 15% tot, sê maar, 20% verhoog (met basiese lewensmiddele belastingvry).

Dan bou ons ten minste ’n platter en breër stelsel én ons kry belastinginkomste van migrante, wat nie in ons belastingnet val nie. Gaan dit genoeg wees? Nee.

’n Jaar of twee gelede het Peter Bruce in Business Day voorgestel dat elke genoteerde maatskappy op die JSE byvoorbeeld 5% van sy markkapitalisasie in ’n onafhanklike restitusiefonds stort. Die regering kan dan projekte benoem wat daarmee gefinansier moet word.

Die geld word nooit na die staatskas oorgeplaas nie om te keer dat dit verkwis word op, byvoorbeeld, reddelose staatskorporasies.

En gaan dít dan genoeg geld wees? Nee. Die res van die middele waarmee ons die onreg van die verlede kan regstel, lê buite die relatiewe klein sak belasbare geld. In eiendom. En grond.

Hoekom takel ons nie ongelykheid deur vir elke burger ’n erf (mét ’n titelakte) te gee nie? Ons het meer as genoeg grond en die meeste daarvan is reeds in staatsbesit. In die proses gee ons ook gehoor aan die wekroep van die Vryheidsmanifes – dat Suid-Afrika aan almal behoort wat hier woon.

Dink net hoeveel bates vinnig tot die ekonomie toegevoeg sal word.

Dink aan hoeveel mense toegang tot banklenings sal kan kry met ’n munisipale eiendom as sekuriteit.

En só word iets konkreet aan die mense van die land gegee, iets wat hulle eendag aan hul kinders sal kan oordra sodat ook hulle ’n hupstoot op hul lewenspad kry.

In sy boek Sapiens wys die historikus Yuval Noah Harari op die ironie daarvan dat die twee pilare van ’n regverdige samelewing – gelykheid en vryheid – eintlik teen mekaar werk. Om almal gelyk te kry (deur byvoorbeeld hul erfgeld te vat) perk jy noodwendig persoonlike vryheid in. En as jy toelaat dat vryheid sy gang gaan, is alle mense ná ’n rukkie nie meer gelyk nie.

Dit is deurslaggewend dat ons ongelykheid uitroei, maar wanneer ons rykdom herverdeel, moet ons versigtig werk, anders verdeel ons armoede. Mag dit titelakte reën!

  • Booyens is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Ongelykheid  |  Boedel  |  Belasting  |  Armmoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.