Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Boeke stuit nie JZ se karavaan
Johann Maarman

Aristophanes, die Griekse skrywer van komedies, het ’n kolskoot-uitspraak gemaak toe hy oor die slymerigheid in die politiek gepraat het en hoe dit gesuiwer behoort te word.

Aristophanes se beeldspraak was dat indien jy goeie regering verlang, jy eers al die vuilgoed van die staat moet uitwas, die wol dan op die tafel oopgooi, die swak stukke uitklop en die kankerroos uitpluk. Hierdie waarneming kon net sowel op Suid-Afrika van toepassing gewees het.

“Die knoeiers en almal wat vir baantjies saamkoek, dié moet julle uitkam en hulle goed aftop; pak dan die wol in die mandjie van algemene welwillendheid; druk almal daarin, uitlander en vreemdeling en vriend . . .”

Wanneer die ANC oor ’n maand in Johannesburg byeenkom om nuwe leiers te verkies, hoop mens dat die knoeiers en die politieke boelies in ANC-geledere nie hul hande op die hefbome van mag sal kry nie.

Thabo Mbeki is destyds polities gegesel toe hy na die twee verskillende Suid-Afrikas verwys het. Die een ryk en wit. Die ander een swart en arm.

Die sikofante van Jacob Zuma gorrel al oorwinningskrete. Hulle maak somme en weet as die dr. Nkosazana Dlamini-Zuma-kamp vir KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Vrystaat kan inkatrol, begrawe hulle daar en dan Cyril Ramaphosa se ambisie om president te word.

Die NDZ-koterie se gifkelkie van radikale ekonomiese transformasie gee vir hulle die broodnodige stemme en laat hulle oorloop van selfvertroue.

Onthou, dit is nie die gewone Suid-Afrikaanse kieser wat besluit oor wie die presidentskandidaat gaan wees nie, maar afgevaardigdes van ANC-takke wat sal besluit wie sy of haar intrek in die westelike vleuel van die Uniegebou neem. Die gewone man en vrou in die straat kan dus maar hoe hard protesteer en Swart Maandae, Wit Woensdae of Groen Vrydae hou: die feit is indien jy nie lid van die ANC is nie, het jy geen seggenskap oor wie volgende die president van die ANC gaan wees nie.

Dis alleenlik ’n ANC-besluit. Die gewone kieser kom eers weer in die volgende nasionale verkiesing in die spel.

Tot tyd en wyl is dit die ANC se konsert en slaan hulle die kitaar en klop die simbaal.

Thabo Mbeki is destyds polities gegesel toe hy na die twee verskillende Suid-Afrikas verwys het. Die een ryk en wit. Die ander een swart en arm.

(Hier reken ’n mens nou nie die tenderpreneur-vente in nie). As ons egter eerlik moet wees, is dit nou nog die geval dat daar ’n te groot gaping tussen ryk en arm is.

Intellektueel was Zuma nie op die gelyke van Mbeki nie, maar hy het die taal van sy kiesers gepraat.

Radikale ekonomiese transformasie is wat die gewone ANC-kieser in die takke wil hoor. Dat Zuma klagte ontwyk en vir hom ’n weelderige herberg in Nkandla gebou het, maak nie eintlik vir hulle saak nie.

Miskien vir die “Clever Blacks” in Sandton, maar beslis nie vir die man en vrou wat in Botshabelo in ’n plakkershut bly nie.

Vir die gewone ANC-lid mag Rama­phosa die ordentlike kameraad wees, maar wat hulle wegstoot van hom is dat hy beskou word as iemand wat die belange van witmonopoliekapitaal sal beskerm. Dieselfde scenario herhaal hom maar net weer soos die stryd tussen Mbeki en Zuma. Intellektueel was Zuma nie op die gelyke van Mbeki nie, maar hy het die taal van sy kiesers gepraat.

Dieselfde geld min of meer nou.

Ramaphosa en Dlamini-Zuma is intellektueel op dieselfde vlak, maar Dlamini-Zuma praat politieke taal wat die gewone ANC-kieser wil hoor. En dis waar die stemme lê. Nie in opspraakwekkende en verdoemende boeke oor Zuma en sy rugkrappers nie – daarvoor is Zuma se vel te dik. Hy lag dit af soos hy verlede week gedoen het.

  • Maarman is eindredakteur van ­­Die Burger, susterkoerant van Beeld.
Meer oor:  Pres. Jacob ­Zuma  |  Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Politiek  |  Korrupsie  |  Anc  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.