Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Boelits, halwe hoenders en ’n skulp vir sy ma

Hy hoop nie die Nigeriërs kry hom in Benoni nie. ’n Vliegtuig sien hom nie weer nie.

Dana Snyman

Ons is op die trein, die Shosholoza Meyl, op pad noord. Derdeklas. Ek sit dié kant van die gangetjie, hy sit aan daai kant.

Agtertoe sit nog vier mense, wat op pad is na ’n begrafnis in Kimberley. Hulle drink Autumn Harvest uit plastiekglase.

Was jy al ooit in Venezuela? vra hy. Nee, sê ek. Is ’n ander plek daai, sê hy.

Ons is ’n halfuur laat uit die Kaap weg, en trek nou anderkant Worcester.

Hy wou nie soontoe gaan nie, maar toe ontmoet hy hierdie Nigeriër in die Kaap, hervat die man oorkant die gangetjie sy storie.

Netnou toe ek sy blad geskud en my naam gesê het, het hy net iets onhoorbaar gemompel. Hy drink saam met die begrafnisgangers wyn.

Die Nigeriër het die vliegkaartjie gekoop en die vals paspoort gereël. Jy weet self hoe dit gaan. ’n Man is geskei en sit sonder werk. ’n Man het geld nodig.

Jy is bang van binne en buite, want sê nou die X-strale by die lughawe tel die goed in jou maag op.

Hy is iets in die 40, met ’n ge­tatoeëerde pikkewyn op die voorarm en ’n paar spoggerige skoene wat afsteek by sy ou denimbroek. Eers het hy Buenos Aires toe gevlieg, waar ’n ander Nigeriër vir hom gewag het. Toe is hulle twee saam Caracas toe. Venezuela. Daarvandaan is hy en die Nigeriër na ’n huis waar hulle moes wag.

Hy druk sy hand in sy sak en bring ’n pienk skulp te voorskyn. Hulle het hom darem een dag die strand gaan wys.

Ná ’n week toe bring die ander ouens van die sindikaat die goed, die wit poeier, die kokaïen. Hulle vat van hierdie doktershandskoene, dan sny hulle die vingers af en stop elke vinger vol kokaïen. ’n Boelit, noem hulle dit. Hulle bind dit toe en draai dit in selifaan toe.

Toe sê die Nigeriër vir hom: Sluk! Halftien die oggend toe sluk ek die eerste een, halftwaalf toe staan my maag só, toe is daar 41 boelits in. Toe sê die Nigeriër: “Congratulations, my friend. The previous guy swallowed only 34.”

Hy gaan haal nog wyn by die begrafnisgangers. As een van daai boelits in jou maag breek, sê hy toe hy weer kom sit, is jy dood.

Jy is bang, jy bid. Jy is bang van binne en buite, want sê nou die X-strale by die lughawe tel die goed in jou maag op.

Terug in die Kaap toe koop die Nigeriërs vir hom ’n halwe hoender en een bier ná die ander terwyl hulle in ’n hotelkamer wag vir die boelits om uit te kom. Hulle het hom darem R12 000 gegee. Hy beduie na sy voete. En dié skoene. Nogal Pierre Kardiens.

Anderkant De Doorns droog sy praat op. Ons sit stil en kyk hoe die wêreld by die trein se vensters verbyskuif.

Op Touwsrivier klim ek af. Hy gaan na sy ma toe op Benoni, sê hy. Hy het die skulp spesiaal vir haar opgetel.

Hy staan by die venster vir my en waai toe die trein weer vertrek. En dan is hy weg, asof hy nooit bestaan het nie.

Meer oor:  Dana Snyman.  |  Van Alle Kante  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.