Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Boer Damian, ek het jou raad nodig . . .

Beste Boer Damian,

Ek besef jy ken my nie, maar ek het jou video op Boer soek ’n vrou gesien en jy lyk vir my na so ’n aangename kêrel.

Iemand met wie ek kan praat. Iemand met wie ek om ’n vuur kan sit en murgbene uitkap, soos my pa sal sê.

Antoinette Louw

Boer Damian, volgens sommige mense is jy ’n uitgeworpene. Hoe hanteer jy dit? Want volgens van die kommentare vermoed ek ék is ook ’n uitgeworpene.

My familielede ook. En vriende.

En ek wil nie hê hulle moet iets oorkom nie. Nie in die huidige lewe óf in die hiernamaals nie.

Daarom het ek jou raad nodig.

Jy is gay.

Ek is nou nie gay nie, maar ek (en my geliefdes) doen ander goed wat my baie bekommerd maak.

Ek’s nie iemand wat staaltjies aandra nie, maar ek voel dis my plig om ’n paar mense te rapporteer.

Veral na gelang van die diepe onkonsekwentheid waarmee hul gedrag gepaardgaan.

My neef – ’n diep gelowige man – is ’n suksesvolle boer in die Vrystaat (so ek gaan nie name noem nie). Maar hy plant verskillende gewasse op dieselfde grond!

Ek het al met hom gepraat, maar hy wil nie luister nie. Daar staan geskryf hy mag dit glad nie doen nie. Om die waarheid te sê, hy moet gestenig word. Ek is baie lief vir my neef en om hom met klippe dood te gooi, is darem te wreedaardig. Moet ’n mens hom nie eerder skiet en klaarkry nie?

My vriendin se dogtertjie het verlede maand 11 geword en ’n klomp dogtertjies Spur toe geneem vir die partytjie.

Tot my konsternasie het al die dogtertjies kaashamburgers bestel! Daar staan duidelik geskrywe ’n mens mag nie vleis en melkprodukte meng nie. Vir wie moet ek gaan aankla: my vriendin, die dogtertjies of Spur?

’n Ander goeie vriend se tienerdogter gee hom eindelose probleme en daar staan geskrywe dat ’n pa sy dogter as slavin kan verkoop. Dié vriend het nou moed opgegee. Hy wil weet wat is die heersende prys vir so ’n kind?

My geliefde het pas vir hom nuwe sokkies gekoop. Sy ou sokkies het al gate in (ek het dit probeer stop, ek belowe).

Daarby is ons huis bitterlik koud in die winter.

Sy nuwe sokkies is van poliëster gemaak. Ek is bitter ontsteld, want daar staan geskrywe ’n mens mag glad nie materiaal van verskillende weefstowwe dra nie.

Maar ek kan nie vingers wys nie. Ek self het ook die wet oortree . . .

Jy sien, daar was ’n deftige geleentheid wat ek moes bywoon. (Die rokkie wat ek gedra het, is uit 100% katoen gemaak, ek belowe.)

My ma het vir my ’n ring gegee wat aan my ouma behoort het. Hierdie ring is baie na aan my hart, maar die ring het fyn diamantjies . . . En ja, ek het wel die ring gedra. Al staan daar geskrywe ’n mens mag nie.

Wat moet ek doen?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.