Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Boere haal uit die aarde en sit ook weer terug

Hy swoeg met skoffelpik teen die ewige verpesting van stinkblaar en kakiebos, sy donkerbruin voorkop onder gryse hare druppend van die sweet. Mielies staan geil op sy lappie aarde. Die jaar staan einde toe. Kerstyd moet die koppe se baarde amper droog wees.

Gerhard Verdoorn

Gister se oproep was soos ’n noodkreet: Die wurms het kop uitgesteek, maar hy kon darem die regte raad kry om hulle die feesmaal van sy jong mielies te ontsê. Ou gryse, daar ver onder die voetheuwels van die Wolkberg, jy moet sterk staan, my vrind. Boer wees is nie stadsmens wees nie. Ek hoop die moetie waarvan ek vertel het, sal die wurms laat wyk. Jou mielies sal mooi koppe gooi en daar by jou stamper sal die meel soos witgoud in jou emmers val.

Die veld lê bar en braak. Selfs die witgatbome staan spookagtig en blaarloos met arms na die hemele, al smekend vir reën. Vyf somers se dood lê oor die veld en die skaapskedel grynslag oor die hulpelose mensdom wat hul laaste moed uitgebid het. Hy laai die emmer skaapstukkies agterop die bakkie en die voertuig kreun moeisaam die veld in. By die verdorde kokerboom sit die bakore al en wag.

Hy klim moeisaam uit en gooi stukkies vleis half lusteloos na die bakoorvossies. Ek weet jou diere is almal dood, my maat, maar as jy vandag nie daar was nie, was die vossies ook teen donkermaan die ander wêreld in. Hou moed, die reën sal kom. Jou boodskap gister oor die sprinkane wat gelukkig nie jou wêreld getakel het nie, was goeie nuus, maar my asem hort saam met joune oor die water wat wegbly.

Ek weet jou diere is almal dood, my maat, maar as jy vandag nie daar was nie, was die vossies ook teen donkermaan die ander wêreld in.

Hulle gesels vrolik so onder mekaar hier waar die aalwee se blare dik van die sappe sit. Die ou antie beduie die jonges hoe mens die blare soek en met deernis uitsny sodat die plant weer volgende jaar sy oes kan gee. Een pak die blare snykant ondertoe sodat die wondermiddel stadig in die erdekom sypel.

Moenie net verkoop nie, was my raad aan jou, ou slimkop wat die aalwyn soos die Bybel ken. Maak jou rug styf. Hy maak nie prys nie, hy betaal jou prys. Het hy die oerkennis van jou grootjies wat in die Langkloof was nog lank voor Thomas Bain die pad kom uitmerk het?

Nee, my vriende, julle is boere van die aarde wat die veld laat boer vir elke jaar se oes en nie durf buig voor die gierige aandrang van die mense uit die noorde nie.

En jy, my vriend, wat iewers langs die Indiese oseaan jou avokado’s en mango’s so mooi vertroetel? Wonder wat maak jy vandag. Seker weer aan’t somme, soos ek jou ken. Altyd vol planne as ons praat. Mark toe, winkel toe of straat toe. Ek kan nie help nie, jy moet self besluit waar die beste geldjies lê.

Jou mense is mos handelaars van ouds. Doen ’n bietjie sake, boer ’n bietjie hier, dryf ’n bietjie handel daar en stry altyd oor ’n prys. Maar moenie vergeet nie, jy belowe my lankal ek kan jou winkel kom besoek en myself aan die speserye help. Hoop net my oë en neus kan die branderigheid vat!

So kom onbekende vriende elke dag oor ’n mens se pad – aan die aarde verbonde omdat hulle boere is. Hulle haal uit die aarde en gee weer terug en saai ons tafels met heilsaamheid.

  • Dr. Verdoorn is ’n natuurliefhebber en bewaarder.
Meer oor:  Droogte  |  Boere  |  Landbou  |  Aarde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.