Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Boere se liefde, kos sal SA red, nie die ANC

Ek sal nie maklik oorlog maak oor ’n standbeeld nie. Maar as daar een beeld is wat Suid-Afrika nodig het, is dit een vir die boer.

Ek sou ’n beeld van boere – manlik en vroulik, swart en wit – langs die een van oudpres. Nelson Mandela op Naval Hill in Bloemfontein wil sien.

Charles Smith

Waar Madiba die politieke hoop van die nasie verteenwoordig, is boere die een rede hoekom ons nog hier is: Die klein groepie mense wat ons laat oorleef.

Die beeld van die ANC en dit wat hy verteenwoordig is reeds vandeesweek hier op Naval Hill aangebring: Die donker gat van 7 m diep wat iemand hier uitgegrawe het. Dit is die gat waarin ons gaan beland onder hul beleid.

Dit is ook gepas dat dié gat-beeld in die Vrystaat is. Ons gaan dit na Ace vernoem. Ace-se-gat val lekker op die tong. Want ons is in die Vrystaat in ’n diep gat ná sy termyn van ellende soos wat dit voor die Zondo-kommissie ontvou.

Die ergste getuienis teen Ace en die ANC is die ma van Hoopstad, Sarah Kwitsi (29), wat alle hoop verloor en haar dogtertjie, Lesego (7), uit desperaatheid opge-hang het. “Ek het nie eens geld vir gif nie,” het sy vir Lesego gesê voordat sy haar gesoen en gehang het.

Ace se bewind word in een, kragtige sin saamgevat. Al die geld wat vir mense moes gaan, is gesteel. Vetkat-kamerade laai kinders met ’n Porsche af in die stad, maar ’n ma is so hopeloos dat sy haar dogtertjie hang.

Die enigste hoop is een van volhoubare lewe, die kans op werk, ’n dak oor die kop en om vir jou gesin kos te kan koop wat plaaslik verbou is. Vleis, mieliemeel, brood, melk, eiers, vrugte en groente. Die meeste kos op ons winkelrakke is deur ons boere geproduseer.

Liefde, dit is die woord en daad wat klein Lesego kon red.

Wie voorsien dit? Net boere wat in die land geleer het om te boer ondanks die ellendes, peste, plae, droogtes en verwoestende beleid deur regerings. Daarvan is die ANC se beleid oor grond en landbou die ergste.

Ek sal graag pres. Cyril Ramaphosa wil nooi na ’n boer soos Jan van Biljon van die plaas Niekerksrust, Viljoenskroon. As een van die land se voorste vleismerino- en Sussex-telers oor dekades, teel hy ook met anatoliese herdershonde, veerpoothoenders, ganse, wit tarentale, kurper-visse, plaasperde, donkies en volstruise.

Sy skaaptroppe word deur baie kwaai volstruise, die anatoliese skaapwagtershonde en die donkies opgepas. Hy moet eers die volstruismannetjie groet as hy die kamp inry, anders skop hy die bakkie flenters. Hy groet sy donkies as hy inry; in die middae praat hy met sy hoenders as hy hulle injaag.

Die een woord wat boere soos Jan saamvat, is “liefde”.

Liefde vir boer, sy diere, alle mense en hierdie land.

Boere soos Jan dra die land, nie die ANC nie.

Liefde, dit is die woord en daad wat klein Lesego kon red.

Meer oor:  Charles Smith  |  Suid-Afrika  |  Boere  |  Goeiemôre  |  Liefde  |  Anc  |  Red  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.