Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bok-party met Rassie as leier kan ANC klop
Charles Smith

Met die ANC wat ons bankrot gesteel het, die EFF wat selfs die banke wegdra en die DA wat oornag van ANC Lite na VF Plus Lite geskuif het, het ons dringend ’n nuwe party nodig.

Ons kort ’n party wat alle groepe sal verteenwoordig, wie se mikpunt dit is om vir almal te “wen” (nie net die vet comrades nie) en waarin ons almal kan inkoop. Só ’n party is die Springbok Party.

Rassie Erasmus se Springbokke is verteenwoordigend van die hele land en elkeen in die span is daar omdat hy goed genoeg is. Die span kan net die Wêreldbeker Saterdag wen as elkeen sy allerbeste gee en die Engelse behoorlik pak.

Net só moet die Springbok Party se doelwit wees om almal te laat wen deur goeie dienste te lewer, wet en orde te handhaaf, werk te skep deur ondernemings te laat floreer, boere regverdig te behandel en, les bes, om welvaart te skep.

Anders as wat die ANC propageer om hul eie skandes te verbloem en die EFF wat mense opsteek om die diefstal van miljoene uit die VBS Bank te verbloem, stem mense nie vir die rassebeleid van ’n party of die kleur van die leier nie. Hulle stem vir ’n werk, ’n huis, skoon water, krag en ’n wasmasjien. Die DA wou teen dieselfde rasbossie as die ANC sy been lig, maar sy tjank is afgetrap.

Of die Springbokke wen of verloor, hulle stel ’n voorbeeld hoe wit, swart en bruin saamgesnoer kan word om te doen wat van hulle verwag word – om te wen.

Of die Springbokke wen of verloor, hulle stel ’n voorbeeld hoe wit, swart en bruin saam in ’n hegte eenheid saamgesnoer kan word om te doen wat van hulle verwag word – om te wen. Dit het die land oor die afgelope maand saamgesnoer, ondanks ’n paar All Black-ondersteuners van Langebaan en TotalSports vandeesweek wat die Eben Etzebeth-saak opblaas om die span te laat ontspoor.

Snaaks hoe stil Langebaan is nadat die All Blacks teen Engeland verloor het. Ek wonder wat die ouens Saterdag gaan kyk as die eindstryd aan die gang is en die land bankvas agter die Bokke is.

Ek gaan volgende week ’n petisie begin om Rassie Erasmus te werf om as leier van die Springbok Party te dien. As hy met die land regkry wat hy in net ’n jaar met die Springbokke reggekry het, is ons op die wenpad. Ons Bok-party kan die ANC in die volgende verkiesing klop, Eskom se vrotsige base uitskop en die SAL se vlerke knip.

Etzebeth kan minister van polisie word en Faf de Klerk kan Rassie se adjudant wees wat die droogmakers wat nie wil hoor nie onder die jis kan skop. Ek hoor julle . . . Nee, ons sal nie Willie le Roux aanstel as speurhoof om die kroeks te vang nie . . .

Ons land het dringend nuwe helde nodig. Ek sal graag wil sien dat Cheslin Kolbe, Damian de Allende en Lood de Jager in die parlement vereer word. Hulle het hul lywe stukkend gespeel vir hul land.

Dis baie meer as wat ons politici kan sê.

Meer oor:  Charles Smith  |  Sport  |  Rassisme  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.