Met die ANC wat ons bankrot gesteel het, die EFF wat selfs die banke wegdra en die DA wat oornag van ANC Lite na VF Plus Lite geskuif het, het ons dringend ’n nuwe party nodig.
Ons kort ’n party wat alle groepe sal verteenwoordig, wie se mikpunt dit is om vir almal te “wen” (nie net die vet comrades nie) en waarin ons almal kan inkoop. So ’n party is die Springbok-party.

Charles Smith
Rassie Erasmus se Springbokke is verteenwoordigend van die hele land en elkeen in die span is daar omdat hy goed genoeg is. Die span kan net die Wêreldbeker vandag wen as elkeen sy allerbeste gee en die Engelse behoorlik pak.
Net so moet die Springbok-party se doelwit wees om almal te laat wen deur goeie dienste te lewer, reg en orde te handhaaf, werk te skep deur sakeondernemings te laat floreer, boere regverdig te behandel en, les bes, welvaart te skep.
Anders as wat die ANC propageer om sy eie skandes te verbloem en as dit waaroor die EFF mense opsteek om die diefstal van miljoene uit VBS Mutual Bank te verberg, stem mense nie vir die rassebeleid van ’n party of die kleur van die leier nie. Hulle stem vir ’n werk, ’n huis, skoon water, krag en ’n wasmasjien. Die DA wou teen dieselfde rasbossie as die ANC sy been lig, maar sy tjank is afgetrap.
Of die Bokke wen of verloor, hulle stel ’n voorbeeld van hoe wit, swart en bruin saam in ’n hegte eenheid gesnoer kan word om te doen wat van hulle verwag word – om te wen. Dit het die land die afgelope maand saamgesnoer, ondanks ’n paar All Black-ondersteuners van Langebaan en Totalsports wat die Eben Etzebeth-saak oordryf om die span te laat ontspoor.
Ek sal graag wil sien dat Cheslin Kolbe, Damian de Allende en Lood de Jager in die parlement vereer word.
Snaaks hoe stil Langebaan is nadat die All Blacks teen Engeland verloor het. Ek wonder wat die ouens vandag gaan kyk wanneer die eindstryd aan die gang is en die land bankvas agter die Bokke is.
Ek gaan volgende week ’n petisie begin om Erasmus te werf om as leier van die Springbok-party te dien. As hy met die land regkry wat hy in net ’n jaar met die Bokke reggekry het, is ons op die wenpad. Ons Bok-party kan die ANC in die volgende verkiesing klop, Eskom se vrotsige base uitskop en die SAL se vlerke knip.
Etzebeth kan minister van polisie word en Faf de Klerk kan Rassie se adjudant wees wat die droogmakers wat nie wil hoor nie onder die jis skop. Ek hoor julle . . . Nee, ons sal nie Willie le Roux aanstel as speurhoof om die kroeks te vang nie . . .
Ons land het dringend nuwe helde nodig. Ek sal graag wil sien dat Cheslin Kolbe, Damian de Allende en Lood de Jager in die parlement vereer word.
Hulle het hul lywe stukkend gespeel vir hul land.
Dis baie meer as wat ons politici kan sê.
- Smith is Volksblad se nuushoof.