Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bokke red ant Liesbet van horribale week

Ja-nee, “God save our gracious Queen”, maar was dit nou wragtig nodig dat óns dit vír hulle moes doen?!

Blouwillem

Hier kom die Bokke sowaar en red ant Liesbet van nog ’n wekies horribalis. ’n Week waarin sy gehoor het dat sy die volgende jaar haar pennies sal moet tel (net R1,5 miljard se sakgeldjies) en ook terselfdertyd die hartverskeurende nuus dat haar laaste opreggeteelde corgi, die 12-jarige Whisper, die tydelike met die ewige verwissel het. En siestog, dit nadat nog een van haar gunstelinge, Willow, vroeër die jaar hondehemel toe verkas het.

Dik Daan het altyd gesê as daar regtig iets soos reïnkarnasie was, is daar niks wat hy graagter sou wou wees as ’n koninklike corgi nie.

“Al wat jy mos hoef te doen, is om met jou ronde lyfie en ’n pens wat op die grond skuur van al die fillet steaks en Yorkshire-poedings oral op die landgoed agter die queen aan te drentel en smiddae langs die koninklike koos onder haar hemelbed ’n uiltjie te knip. Nee, kyk, daaraan sal ek bitter gou gewoond kan raak, manne!”

’n Mens wonder presies hoeveel corgi’s sedert 1933 met hul oulike klavierpootjies deur die paleis gedrentel het. Dit moet vrek baie wees. En om die koningin se gunsteling-corgi te kon wees het jou waarskynlik nog ’n trappie hoër in die honde-aristokrasie laat styg as ou prins Flippie se kommin jakkalshonde.

Die jinn bekyk die brakkie van alle kante en verklaar dat hy ongelukkig niks aan sy saligheid sal kan doen nie.

Dik Daan het destyds die volgende ware verhaal by sy bronne in MI5, die Britse intelligensiediens, gehoor (hou dit maar stil, want as tant Liesbet hiervan uitvind, sal Charles waarskynlik nooit die kroon op sy hoof kry nie).

Toe prins Charles destyds geskei is, is hy een aand haastig op pad na Kameeltjie vir ’n diskrete ontmoetinkie en jaag daar by Boekenham-paleis agteruit met sy Land Rover bo-oor ’n niksvermoedende corgi.

Tot sy skok besef hy dis, wee o wee, die koningin se gunsteling-corgi wat hy hondehemel toe gestuur het. Haar hondehart se punt.

Skielik verskyn ’n jinn aan hom en sê hy wat ou Charles is, het drie wense. Die verligte Charles vra: “Kan jy vir my hierdie hond weer lewend kry?” Die jinn bekyk die brakkie van alle kante en verklaar dat hy ongelukkig niks aan sy saligheid sal kan doen nie.

“Wat’s jou tweede wens?” vra hy die bedrukte Charles. “Kan jy my meisie net so jonk maak soos my eks?”

“Het jy vir my foto’s?” vra die jinn en nadat hy dit bekyk het, verklaar hy kopskuddend dat dit te moeilik sal wees.

Charles se laaste wens: “Laat Engeland weer die Sokkerwêreldbeker wen!” Die jinn frons: “Bring maar weer daai hond en die foto’s dat ek kyk wat ek kan doen.”

Ai, ja, grappies oor die Engelse as jy teen hulle verloor, laat jou beter voel, maar nie baie nie. Nee, vaderland, manne, waarmee is julle besig?!!!

Meer oor:  Blouwillem  |  Rubriek  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.