Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bokke speel deuntjie oor 'grootste meulsteun' stil
Gert van der Westhuizen

’n Jaar in Springbok-rugby, om die geykte uitdrukking te gebruik, kan nogal ’n lang tyd wees.

Verlede jaar dié tyd was Bok- ondersteuners en rugbybase moedeloos ná die swak vertonings teen Ierland.

Hulle het rede gehad om terneergedruk te wees: Die Bokke het daarna van die een voorspelbare krisis na die ander gesteier met die nederlaag teen Italië, een van agt in 12 toetse, sekerlik die grootste laagtepunt in die ganse Springbok-geskiedenis.

Redes vir die swak vertonings is oral gesoek. Die vermoë van Allister Coetzee, afrigter, is elke week bevraagteken.

Die spelers het ook deurgeloop en sommige kritici het transformasie as die grootste meulsteen om die Bokke se nek bestempel.

In vanjaar se reeks teen ­Frankryk is dié deuntjie genadiglik nie weer gehoor nie. (Wat jou nogal laat wonder oor van die kritici se motiewe, maar dit eers daargelaat.)

Ondersteuners sal veral bly wees dat Jantjies uiteindelik tot sy reg gekom het.

Spelers soos Jan Serfontein, Siya Kolisi en Elton Jantjies (volgens statistieke die drie invloedrykste Bokke) het gedy nadat al drie al in hul Bok-loopbane onder kritici se tonge deurgeloop het.

Ondersteuners sal veral bly wees dat Jantjies uiteindelik tot sy reg gekom het in wat weer na ’n gelukkige spanomgewing lyk, een waarin dit duidelik is dat die spelers ’n hegte eenheid is nadat hul afrigter, so anders as verlede jaar, genoeg tyd voor die eerste reeks saam met hulle deurgebring het.

Dit het gelyk asof die Bokke dit weer geniet om rugby te speel.

Hul aanvallende spel kon glad nie met verlede jaar se patetiese pogings vergelyk word nie. Hul verdediging het ondersteuner én teenstander verbaas.

’n Nuweling soos Ross Cronjé het boonop ’n groot verskil gemaak en behoort ondersteuners beter oor die toekoms te laat voel.

Die Suid-Afrikaanse A-span se vertonings teen die Franse Barbarians was ewe bemoedigend en gee jou moed wat die diepte van Suid-Afrikaanse rugby betref.

Spelers soos Ox Nche en Seabelo Senatla se vertonings vir die naasbestes het gewys dat hulle vanjaar nog vir die Bokke kan uitdraf.

’n Mens moet uiteraard daarteen waak om ooroptimisties te wees omdat sake in sport oornag kan verander.

Boonop is die Franse beslis nie die beste span ter wêreld nie en bitter min Bok-ondersteuners sal sommer nou visioene begin sien van glorieryke seges oor die All Blacks.

Maar ná verlede jaar se geploeter moes die Springbokke weer van voor af begin. En dit hét hulle teen die Franse gedoen. Meer kon ons nie van hulle gevra het nie.

  • Van der Westhuizen is ’n artikelskrywer van Netwerk24 en ’n voormalige sportredakteur van Beeld.
Meer oor:  Gert Van Der Westhuizen  |  Rugby  |  Standpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.