Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bokke: timidus, nudus en dalk plein koekoes

Toe die Springbokke in 1951 Skotland met 44-0 verslaan het, is ’n nuwe uitdrukking tot die taalskat gevoeg om groot oorwinnings te beskryf: ge-Murrayfield.

Maar veral sedert 2002 groei die taalskat vinnig om die Bokke se groot nederlae te boekstaaf!

So is ons al deur die Wallabies ge-Brisbane (0-49); deur die All Blacks ge-Albany (0-57), ge-Durban (15-57) én ge-Loftus (16-52), en deur Engeland ge-Twickenham (3-53). Jy kan maar sê ons word rondgebliksem van Brisbane tot Brighton (teen Japan) en floreer vloer toe (en moer toe) tot in Florence (teen Italië).

Ons afwaartse prestasiekromme bring dié vraag: Het ons dalk te doen met die ontwikkeling (teling) van nuwe boksoorte, nuwe strategieë én nuwe name vir die nasionale span?

Heel eerste Caper timidus, á la Etienne van Heerden se boksoort in sy roman Die stoetmeester. Dit is Floubokke wat begin kantel en in ’n beswyming gaan sodra hulle stres – soos die Bokke verlede Saterdag. Die leidende rugbystoetmeester, Rassie Erasmus, beaam dit.

Dit suggereer mos ’n vreesaanjaende profesie oor Saterdag teen die All Blacks: Sê haka vir dié Floubokke en hulle kantel nadat hulle, soos een man trots en betraand, die veeltalige volkslied gesing het.

Onthou Rudolf Straeuli se Kaalbokke wat glo nakend en honger in ’n moddergat geboender is?

Dan is daar die “male-bonding”-strategie rondom Caper nudus in 2003. Onthou Rudolf Straeuli se Kaalbokke wat glo nakend en honger in ’n moddergat geboender is?

Dít terwyl die haka en “God Save the Queen” teen volle folterende volume gespeel is om woede te wek en só die “vaste vyf” en die res se kragdadigheid te verseker.

Byna soos in die fliek Apocalypse Now toe lt.kol. Bill Kilgore musiek van Wagner oor luidsprekers uitgesaai het “because it scares the sh*t out of the slopes”.

Hoe sal ons die Springbok se ou glorie herwin as die sierlike, dartelende gasel eie aan die velde van Afrika?

Desondanks, nog in die gly-gly-stroom van Straeuli se Kamp Staaldraad, het dié boksoort bly voortsukkel in dieper water(s). Toe, met Jake White in beheer, wen ons weer ’n bietjie – 2007 se Wêreldbeker in Parys, Frank­ryk.

Maar nou, na die voorbeeld van Tyl Uilspieël se hekelende “hondelatyn”, het ons die boksoort Caper koekoes – my benaming vir Deurmekaarbokke wat (veral in die tweede helfte van ’n wedstryd) in ’n waas drie- en doelloos rondsteier sonder tropformasie op aanval en verdediging.

Hoe wen ’n mens nou die Rugbykampioenskap en Wêreldbeker met dié mengelmoes van timidus, nudus en koekoes? Hoe sal ons die Springbok se ou glorie herwin as die sierlike, dartelende gasel eie aan die velde van Afrika?

Nie maklik nie. Miskien moet ons ons dan wend tot nuwe name en ons werklik steur aan die semiotiek van kleur in die volle gang van ’n omvattende transformasieplan. Dit begin by vergeet van die naam Springbokke wat in vroeër tye eintlik maar die Boerbokke was (toe die hele spannetjie wit was). Heelwat later het ons kleurverteenwoordigend oor Bonte(r) bokke begin dink. Miskien het die tyd van die Swartwitpense nou aangebreek.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Rugby  |  Bokke  |  Sport  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.