Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Bondgenoot’ en ‘vyand’ op Swart Vrydag
Wilhelm Jordaan

Swart Vrydag is verby en wat oorbly is Blouwillem se Maandag-wysheid (2.12): “Net die tyd (of die bankbestuurders) sal leer hoeveel ouens (seker ook vrouens, Willem!) Vrydag geld wat hulle nie gehad het nie, uitgegee het op goed wat hulle nie nodig het nie.”

So praat ’n man (en ek beaam) wat “dié dag 100% bespaar het deur elke halfuur vir ’n uur by die huis te bly”!

Swart Vrydag is wat my betref ’n dag waarop die filosoof René Descartes (1596-1650) in sy graf sou omdraai as hy kon sien hoe sy befaamde “cogito ergo sum” (“Ek dink, daarom is ek”), wat oor die wese van jou mensheid gaan, 100% geplunder is tot ’n andersoortige mensheid: Ek koop, daarom is ek; ek besit, daarom is ek.

Miskien moet ’n mens iets soos Swart Vrydag aanteken as ’n dag van ’n stryd tussen spandabelheid (lees: vraatsug en hebsug) teenoor spaarsaamheid (lees: nugterheid en betreklike suinigheid).

Sommige breinnavorsers verklaar dié stryd neurologies: By spaarsamige mense word hul nukleus accumbens­ (’n breingebied wat met positiewe emosie verbind word) geaktiveer as hulle van ’n produk hou. As hulle die prys sien en reken dit is te hoog (of nie laag genoeg nie), word ’n ander breingebied (die insula), wat verband hou met slegte reuke en die afwagting van ’n pynlike skok, geaktiveer. Die “slegte reuk” en afgewagte pyn laat hulle dan “nee” sê.

By spandabelrige mense word die nukleus accumbens­ eweneens sterk geaktiveer as hulle iets sien waarvan hulle hou, veral as dit na ’n winskopie lyk.

By spandabelrige mense word die nukleus accumbens­ eweneens sterk geaktiveer as hulle iets sien waarvan hulle hou, veral as dit na ’n winskopie lyk.

Maar anders as by die spaarsamiges, word hul insula nie juis geaktiveer nie. Die slegte reuk en pyn is as’t ware afwesig en dít laat hulle die produk koop. Kortom: Emosie, soos gereguleer deur die brein, dikteer jou koopgedrag op iets soos Swart Vrydag.

Dit klink darem baie wetmatig. Miskien moet ’n mens iets byvoeg: As jy van kleintyd af geleer het besittings is ’n belangrike ding en jy kan maar kry wat jy graag wil hê omdat jy die geld en kredietkaarte het, word koop ’n lewensgewoonte.

En dié gewoonte word as’t ware ondersteun deur ’n “gewillige” brein wat reageer soos jy dit deur jou lewensgewoontes geprogrammeer het.

Wat die breinnavorsing hierbo aandui, sê maar net spaarsamige en spandabelrige mense se breinfunksionering weerspieël hul aangeleerde lewensgewoontes. En dit maak hulle gereed om weer en weer die gewoonte uit te voer.

Die sielkundige William James het dit lank gelede al opgesom: “Die wese van alle opvoeding is om jou senustelsel (lees: brein) jou bondgenoot te maak eerder as jou vyand.”

Op Swart Vrydag was die brein vir die spaarsamiges ’n bondgenoot; vir die spandabelriges ’n vyand.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Swart Vrydag  |  Geld  |  Ekonomie  |  Skuld  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.