Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Boodskap aan dogters in al die uithoeke van SA
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Ek ken die jongvroukind nie, maar vanselfsprekend herken ’n mens jou hartsvriendin se kind al het jy haar nog maar drie, vier keer gesien in haar 18 jaar.

Hulle vingers maak tog dieselfde skoenlapperagtige bewegings tussen koffie-skep en koffiekoppie, en dis in die oë: ’n donker rivierkleur en ’n manier van kýk.

’n Kyk wat sy my en haar ma meermale sou gee in die paar dae wat ons saamkuier, diep in die bos in die buurland waar hulle woon, ver van alles en almal; maar veral die aand van die foto-album. O, die heerlikheid daarvan om lieftallige weerwraak te neem op 2-jarige tantrums, 15-jarige dikbekgeit en ander kinderverleenthede: “Kyk hier! Ons was jonk!”

So nou en dan mik die liewe kind na haar kamer. Maar ons het stories om te vertel en bekentenisse om te maak en dis net vanaand, toe; oë en ore oop: Luister wat die ou vroue het om te vertel.

Ons vertel van vry op die agterste bank in die bus na die atletiekbyeenkomste; ons fluister oor die aande wat ons oor openbare swembaddens se mure geklouter het om te gaan nagswem; ons herinner haar en mekaar aan hoe vinnig ’n skoolmaat in memoriam kan wees.

Wat ons haar nie vertel nie, is die talle kere wat ons as jong vroue in benarde situasies was.

Wat ons haar nie vertel nie, is die talle kere wat ons as jong vroue in benarde situasies was. Meestal deur onkunde, dikwels vanweë naïwiteit, soveel maal deur blote goedgelowigheid. Soms kon ons mekaar red, ander kere was ons onkant betrap. Dank vader was die situasie nooit om lewe en dood nie.

Het ek al ooit my eie dogters vertel van die man in Sunnypark se boekwinkel wat – toe ek met Antjie Krog se Otters in bronslaai in my hande staan – gevra het of hy my kan teken? Verkieslik naak. En my gestamel: “Nee. Maar dankie vir die kompliment.”

Jimmel. Waar begin ’n ouer vrou om te verduidelik oor die waaroms en hoekoms van jou destydse simpel, verskonende, siekdankbare reaksie? Die sosiologie daarvan is ’n donker poel waardeur ’n mens eindeloos kan wentel. Asof jy skuld had om die onbekende man bloot deur jou teenwoordigheid op te ja.

Wat ons gedoen het. Ons en so baie voor ons; ná ons. Ons was maar net daar, besig om ’n boek te soek, ’n koffie op ons eie te drink, in die poskantoor – doodgewoon besig om te leef.

Hier is ons nou jare later, danksy hope genade, ek en my vriendin. Haar dogter met die bruin oë – die allerdogter – luister tog na ons al sien sy ’n ander wêreld ooplê voor haar, en dit is goed. Maar nooit was enigeen in ons kring só uitgelewer en weerloos soos nou nie.

Laatnag, in my bed, wil ek al die dogters in al die uithoeke van die land byeen roep en sê kom, kom weg uit die sogenaamde beskawing. Na die rivier, oewerbos, vlaktes. Daar is leeus en luiperds en olifante. Gevaarlike goed. Maar sou jy daar omkom, kom jy daar om: doodnatuurlik.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Dogters  |  Vrouegeweld  |  Vrouehaat  |  Vroue  |  Seksisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.