Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bou só ’n skans teen populisme

Die Zuptas se aanval op adjunkhoofregter Raymond Zondo is die voorspel tot ’n breër populistiese aanslag op Suid-Afrika se ganse grondwetlike bestel.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Zondo is vandeesweek deur die Jacob Zuma-stigting daarvan beskuldig dat hy ’n obsessie daarmee het om die voormalige president te verneder. Dit het gevolg nadat die Zondo-kommissie dit duidelik gemaak het dat Zuma gedagvaar sal word om voor hom te verskyn as hy dit nie uit vrye wil doen nie.

Hoe dieper Zuma in die regsmoeras sink, hoe feller word sy verdagmaking van die regbank en dienende regters.

Die aanval op Zondo kom byvoorbeeld kort op die hakke van sy ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa verlede maand. Daarin het hy te kenne gegee dat die howe werktuie in die hande van sy politieke vyande is deur te beweer dat die regbank Ramaphosa “gehelp” het om die identiteit van skenkers vir die CR17-veldtog geheim te hou.

Die voormalige Nommer Een se uitlatings gaan egter oor veel meer as net ’n verdagmakery van die regbank – hy en sy meelopers gaan uiteindelik ’n volskaalse aanslag op die ganse grondwetlike bestel van stapel stuur namate die regstrop stywer trek.

Zuma en sy kornuite het lankal ’n broertjie dood aan die gesag van die regbank. Die oudpresident kon uit die staanspoor nog nooit verstaan waarom die regbank aan die ANC-regering kon “voorskryf” nie, omdat in sy verwronge logika die ANC demokraties verkies is deur die mense, terwyl regters bloot aangestel is en dus nie die wil van die mense verteenwoordig nie.

En elke keer dat die howe die Zuma-regering se brouwerk moes regmaak, het sy weersin in die regbank gegroei.

’n Diepgaande gesprek tussen politieke partye oor wat dié sentrum is, en hoe dit gebou moet word, raak kritiek.

Dié ingesteldheid het gedien nie net as onderbou vir herhaalde aanvalle op die onafhanklikheid van die regbank nie, maar selfs vir aansprake dat die Grondwet herskryf moet word omdat “dit nie God is nie”.

Gevaarlike populistiese kwaksalwery soos dié is helaas nie blote geskiedenis nie. Dit gaan toenemend gebruik word as wapen deur die Zuma-kamp.

Hou maar dop hoe daar al hoe luider verkondig sal word dat die onderhandelde skikking ’n verloëning was van die struggle se “radikale transformasiedoelwitte”. Die Grondwet self sal ook uitgebeeld word as die produk van ’n elite-transaksie wat slegs moontlik was omdat Ramaphosa, destyds die ANC se hoofonderhandelaar, bereid was om sy beginsels te verloën onder druk van sy “wit meesters”.

Die beroep sal dan ook toenemend kom dat dit nou tyd is om die struggle te voltrek. In welke mate geweld as ’n motief in dié boodskap sal verskyn, moet ons nog sien.

Dis egter reeds seker dat Zuma nie geskroom het om selfs tydens sy presidentskap gewelddadige motiewe in die politieke handel en wandel te legitimeer nie – onthou lesers nog “Umshini wami”?

Só ook is afbeeldings van Thabo Mbeki deur die Zumaïete verbrand in die aanloop tot eersgenoemde se onttroning by Polokwane. Dese en gene se slagspreuk “I will kill for Jacob Zuma” is natuurlik nog vars in die geheue.

En toe Zuma aangekla is van korrupsie, is die boodskap van sy kamp: “Bevind Zuma skuldig en die land brand.” Só moedig Zuma ook die jeug aan om die “soldate” van radikale ekonomiese transformasie te wees.

Hierdie opruiende taal, wat maklik ’n veldbrand kan word in die droë gras van voortgesette ontneming, stygende werkloosheid en knellende ekonomiese omstandighede, kan relatief maklik gestuit word, míts die sentrum van die Suid-Afrikaanse politiek sterk staan.

’n Diepgaande gesprek tussen politieke partye oor wat dié sentrum is, en hoe dit gebou moet word, raak kritiek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.