Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Braam se plan, ATKV gee hoop
Barnard Beukman

Braam Hanekom se pleidooi dat Suid-Afrika ’n nuwe vredesakkoord moet kry – soos met groot vrug in 1991 gesluit is – het in dieselfde week gekom as wat die ATKV sy algemene jaarvergadering in sy Klein Kariba-oord by Bela-Bela gehou het.

Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis, se voorstel en die ATKV se benadering tot verskeie kwessies bevat belangrik hoopgewende elemente vir die pad vorentoe.

Na aanleiding van die vlaag van onrus en geweld wat deur tientalle dorpe en stede in elke provinsie getrek het en persoonlike besoeke aan minstens 20 plekke landwyd bring Hanekom die goeie nuus dat daar tekens is dat die burgerlike samelewing gereed is om homself te mobiliseer. Volgens hom kom gemeenskapsforums tot stand en is daar private inisiatiewe om vredesmonitors op te lei.

Die sukses van die destydse vredesinisiatief is juis dat dit bene op grondvlak gehad het, met sakelui, kerklui en gewone lede van die samelewing wat in plaaslike gemeenskappe betrokke was. Volgens Hanekom sal “so ’n akkoord vandag baie anders lyk, maar in beginsel is dit dieselfde”.

Dit is van dwingende belang dat so ’n inisiatief so gou moontlik momentum kry en so inklusief moontlik is. Verwag meer teenstand as die vorige keer, veral van diegene wat persoonlike voordeel trek uit ’n wanfunksionele omgewing omdat dit die dekvuur vir selfverryking, staatskaping en gewone boewe-ry skep.

En die algemene jaarvergadering was geen “joegaai-maats-byeenkoms” nie.

In Limpopo het die ATKV saamgetrek vir sy algemene jaarvergadering. Dit is ’n organisasie wat, weliswaar in die Afrikaanse gemeenskap, maar inklusief help bou aan wedersydse begrip vir mekaar se behoeftes.

En die algemene jaarvergadering was geen “joegaai-maats-byeenkoms” nie. Van die vloer af het diverse afgevaardigdes nie gehuiwer om sensitiewe kwessies reguit te pak en daaroor te verskil nie, maar op ’n manier wat die organisasie, Afrikaans en Suid-Afrika vorentoe vat.

Van die ATKV se 69 057 lede oefen

3 886 die opsie uit om aktief by die 315 takke landwyd in te skakel. Reeds in eie kring is daar dus die potensiaal om deelname aan takke se verbeeldingryke gemeenskapsprojekte uit te brei. Dit sluit ook goed aan by Bridgitte Mathews, nuwe direksievoorsitter, se versugting om meer aktiewe, werkende mense betrokke te kry. Tans is dit hoofsaaklik die ywer van die jeug en afgetredenes wat momentum gee. Maar sy besef tereg die belangrikheid daarvan om die ekonomies aktiewe groep van 30 tot 60 jaar ook meer betrokke te kry.

Die ATKV het ook laat blyk dat hy moontlik gereelder van hom wil laat hoor oor kwessies wat die hoofstroommiddelgrond bou. Met die dinamiese en nugtere Mathews aan die voorpunt sal dit ’n welkome stem wees. Mits die ATKV slim genoeg is om nie meegesleur te word deur publisiteitsverslawing en op alles van Julius Malema tot mieliepryse reageer nie. Maar alles dui daarop dat hy dit goed verstaan.

Hanekom skryf verlede week in sy artikel: “Dit klink haas onmoontlik, maar hierdie wanfunksionering in ons regeringstelsel sal omgekeer moet word. Ek is onseker of politici dit gaan doen. Weer eens sal die burgerlike samelewing moet opstaan.”

Ons kort nou geen ridders wat op wit perde aangejaag kom en die kollig as selfaangestelde redders probeer steel nie. Eerder indringende wysheid.

Daar is natuurlik reeds meer inisiatiewe vir vrede en standhoudende burgerlike projekte deur velerlei organisasies en Suid-Afrikaners aan die gang. Maar dit was goed om Hanekom se voorstel juis ten tyde van die hoopgewende ATKV-byeenkoms te lees.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Atkv  |  Barnard Beukman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.