
Prof. Hennie van Coller
Brakpan is dikwels die skyf van spot.
Die kortstondige roem van Vernon Koekemoer destyds in die pers, foto’s en al, het kwalik ’n joernalistieke hovaardigheid verberg. Dis mos veral in Brakpan waar jy agter-die-klip-Afrikaners sal aantref, is geïmpliseer: “rockspiders” by uitstek.
Brakpan ken ek anders, want in my jeug was dit dikwels naweke – saam met Benoni – ons kuierplek. Die verblyfplek van my oom Tienie en sy gesin; vir lang tydperke ook van oupa Hendrik en ouma Emmie. Blouboordjiewerkers almal, maar soos baie van hulle, sout van die aarde.
Maar dat daar harde manne in Brakpan was, sal niemand wat al ooit ’n voet daar gesit het, betwyfel nie.
Daaraan word ek onlangs herinner toe ’n goeie vriend, ook ’n Tienie, my bel en soos gewoonlik onmiddellik met die deur in die huis val. Apartheid is nou glo amptelik verklaar as ’n misdaad teen die mensdom, sê hy. Wat hy en ouboet nou van my die akademikus wil weet, is of almal wat destyds direk of indirek daarby gebaat het, dan nou misdadigers is? Op my ontwykende antwoord is sy reaksie kortweg: Daai ou met die kop-doek moet ligloop, want as jy ’n ou van Brakpan sonder bewysplaas van ’n misdaad beskuldig, dan sort hulle hom uit.
Dis oor die getimmer wat ek vandag skryf.
Desjare, vertel Tienie my, was daar ’n spietkop in Brakpan wat die laaities van Stoffberg ’n lewe gely het. Omdat van die fitter and turners, welders en myners moeilike kalante was, het hy ’n sagter teiken gekies: die skoolseuns wie se fietse dus sy volle aandag ontvang het.
Daar was altyd iets om ’n kaartjie voor te skryf: die lisensies het verstryk; die ligte was stukkend en êrens het hy ook ’n ordonnansie gevind wat modderskerms voorgeskryf het vir ’n padwaardige rywiel.
Doors was ’n ducktail én het vir Brakpan se C-span uitgedraf, hoewel “uitdraf” ’n verkeerde woord is.
Doors was ’n ducktail én het vir Brakpan se C-span uitgedraf, hoewel “uitdraf” ’n verkeerde woord is. Hy en sy spanmaats het nooit ’n rugbyveld gesien nie, maar hul amptelike status as klubspelers het aan hulle toegang tot die kroeg verleen. Hy sou hom ook nooit verwerdig om te draf nie; fiks het hy gebly deur bakkiewrakke rond te sleep op die scrapyard.
Toe Doors se broertjie dus kla oor die spietkop se viktimisasie het Doors laasgenoemde gekonfronteer voor die einste klub. En toe die spietkop hom opruk, toe timmer Doors hom net daar.
Diep in sy eer gekrenk en klaend oor die steel-hou, dring die spietkop aan op ’n herontmoeting, doer onder die Dunnottar-duikweg.
Die Saterdag daag die spietkop op waar Doors hom inwag. Meteens hoor jy net motorfietse van al Brakpan se wetstoepassers. Reg om Doors ’n les te leer.
Dis toe dat die ducktails tussen die lang gras opstaan en ’n bloedige veldslag plaasvind.
Sonder enige wetlike gevolge.
Want Brakpanners sort mekaar self uit.