Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Brand bring einde aan mite

Dit is altyd treurig om geskiedenis in vlamme te sien vergaan, maar miskien is die verwoesting van S.J. du Toit se huis ’n teken dat ons aan die einde van die mite is dat hy die stamvader van Afrikaans is, skryf Deon Maas.

Die plaashuis van S.J. du Toit op Augusta Kleinbosch voordat dit Maandagaand in ’n brand verwoes is . . .

SJ du Toit is nie die vader van Afrikaans nie en hy’s beslis nie die stamhoof van Afrikaans nie. Hy is eerder die kaper van Afrikaans, iemand wie se Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) die taal uit die volksmond gevat het en dit toegeëien het sonder die toestemming van die meerderheid mense wat dit gepraat het.

Ná die vernietiging Maandagaand van Du Toit se plaashuis op Augusta Kleinbosch (wat deur Duitsers besit word) is al die geykte en historiese leuens oor Afrikaans van voor af opgediep.

Frases soos “geboorteplek van Afrikaanse taal in brand verwoes” en “die eerste Afrikaanse skool” is liberaal rondgegooi.

Die eerste keer dat Afrikaans ernstig opgeneem is as ’n taal, was in die vroeë 1800’s in Moslemskole, madrassas.

Die taal is vroeër gepraat in ’n verskeidenheid van plekke en variasies, maar dit was die wettiging van Islam in die Kaap in 1804 wat die taal ’n hupstoot gegee het.

Kom ons begin eerder by die begin . . .

Die grootste teenstand teen die ontwikkeling van Afrikaans het gekom van opgevoede Afrikaners, meestal Kapenaars, wat dit as ’n “hotnotstaal” vir ongeletterdes en plaasmense beskou het.

. . . wat oorgebly het ná die brand.

Hoe verder jy van die Kaap gebly het, hoe gewilder was Afrikaans, weg van die invloede van die Hollandse matrose wat die taal in Kaapstad aan die lewe gehou het.

Teen die tyd van die Groot Trek, was daar reeds drie herkenbare vorms van Afrikaans.

Die Afrikaans wat wel in Kaapstad gepraat is, is gepraat deur die slawe. Hierdie slawe was nie wit nie en hulle was Moslems.

Omdat die slawe van verskillende plekke af gekom het, was daar somtyds taalprobleme in die madrassas.

Nadat Islam ontban is in 1804 is meer en meer Afrikaans begin gebruik in die skole om die taalprobleem te fnuik.

Teen 1815 is omtrent alle Maleis vervang deur Afrikaans in die skole. Hulle het steeds die Arabiese alfabet gebruik, maar die taal was Afrikaans.

Hierdie madrassas was dus die eerste Afrikaanse skole, nie die een op Augusta Kleinbosch nie.

Teen 1840 is die eerste gedrukte instruksies in Afrikaans deur die madrassas gepubliseer. Hierdie was dus die eerste publikasie in Afrikaans, nie die Afrikaanse Patriot of Ons Klyntjinie.

In 1856 het die Kaapse drukker M.C. Schonegevel die eerste boek in Afrikaans gedruk. Die skrywer se naam was sjeg Ahmad al-Ishmuni.

Kort op sy hakke het sjeg Abu Bakr Effendi, ’n Turkse Moslem-heilige, sy eie aangepaste Arabies-Afrikaanse alfabet gebruik om sy eerste boek in Afrikaans te skryf. Die jaar was 1860.

In 1874 was Arnoldus Pannevis die man wat ’n beroep gedoen het op verskeie Europese Bybelgenootskappe om geld beskikbaar te stel om die Bybel in Afrikaans te vertaal.

Hy het aangevoer dat die meeste mense nie meer die Bybel in Hollands kon verstaan nie. ’n Mens kan natuurlik ook spekuleer dat die gewildheid van Afrikaans onder ’n groep mense wat nie sy kleur of godsdiens gedeel het nie, ook ’n rol sou speel in sy geldinsamelingsprojek.

Op 14 Augustus 1875 het S.J. du Toit en ’n klomp invloedryke boere van die Paarl-omgewing bymekaargekom om die GRA te stig. Hierdie mense het dieselfde demografie verteenwoordig wat die taal 30 jaar tevore as ’n “hotnotstaal” beskryf het.

In wat net as ’n wanbesteding van geld beskou kan word, is daar besluit om die geld vir die Bybelvertaling eers te gebruik om ’n organisasie te stig wat Christelik-nasionaal van aard sal wees en Afrikaans sal gebruik om ’n nuwe nasie te bou.

Hierdie organisasie het natuurlik nie plek gehad vir gewese Moslemslawe nie, al was hulle die voorste gebruikers en ontwikkelaars van die taal tot dusver. Die Bybel is eers in 1933 in Afrikaans vertaal.

Die wanopvatting oor die oorsprong en aan wie Afrikaans behoort, kan merendeels aan die voete van prof. J.J. Smith gelê word toe hy sy Hofmeyrstigting-lesing in 1948 aangebied het.

Hy was vas oortuig daarvan dat Afrikaans 95% Nederlands was met min of geen invloede van slawe of plaaslike bewoners nie.

Deon Maas

Hy het dus die idee namens die Nasionale Party versterk dat Afrikaans ’n wit, Christentaal is.

Dit het tot 2003 geduur.

Toe het die historikus Hermann Giliomee hierdie wanpersepsie verkeerd bewys.

In die jare tussen die twee toesprake het die idee dat Afrikaans deur S.J. du Toit en sy trawante begin is, spoed opgetel omdat daar geen navorsing gedoen is om Smith se teorie verkeerd te bewys nie.

Dit het natuurlik ook die regerende party se agenda goed gepas en ’n mens moet selfs wonder watter rol hul denke in Smith se halfgebakte navorsing gespeel het.

Dus: As jy dink dat Afrikaans ’n wit, Christentaal is, dink weer, en as jy dink dat S.J. du Toit die volksvader van Afrikaans is, dink weer en as jy dink dat die skool op Augusta Kleinbosch die eerste Afrikaanse skool was, dink weer.

  • Deon Maas is die skrywer van Melk die heilige koeie, wat pas verskyn het.

Michael Morris:Kyk hoe lyk Afrikaans nou” - Beeld

Hans den Besten: Roots of Afrikaans, Selected Writings

  • The Portuguese Influence on Afrikaans with Particular Reference to Military Language

G. Olivier & A. Coetzee: Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans

D.J. Eppink: “Maleis het Nederlands ook taamlik beïnvloed” Onbekend

Hermann Giliomee:The Rise and Possible Demise of Afrikaans as a Public Language” – Taylor & Frances Online

J.J. Smith: “Theories About the Origin of Afrikaans” – dbnl.org

Meagan Hamman - “What’s the Deal with Kaaps?” - Capetownmagazine.com

Richard Katherine Schultz: “Afrikaners in South Africa” - geography.about.com

Irene Thompson: “Afrikaans” – aboutworldlanguages.com

Onbekend: “Afrikaner” – sahistory.org.za

David Welsh: “Urbanisation and the Solidarity of Afrikaner Nasionalism” – The Journal of Modern African Studies 1969.

Wessel P. Visser: “Urbanization and Afrikaner Class Information: The Mine Workers’ Union and the Search for a Cultural Identity” - academia.edu

Meer oor:  Deon Maas  |  Afrikaners  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.