Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Brandpunt: Ace-vervolging: Groot saak wag
Ace Magashule
Ace Magashule Foto: Daily Sun

Gaan die vervolging van Ace Magashule suksesvol wees? Dit is ’n vraag wat nou dikwels opduik.

Dit is nou Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wat ook as premier van die Vrystaat handel gedryf het – van 2009 tot 2018 toe skimprojekte bedink is om die provinsiale koffers leeg te tap sonder dat iets in ruil vir inwoners gevestig is.

Einste Magashule wat nou die ANC in sy gewaande stryd om geloofwaardigheid te probeer voorhou in sy soveelste identiteitskrisis gedompel het. En oor wie se lot as sekretaris-generaal die sover tandelose indoenas van die stagnante ANC-integriteitskomitee die naweek moet beslis. As deel van die middelpuntvliedende dinamika wat ontketen word deur Cyril Ramaphosa, as partyleier, se voorneme om korrupsie in die party (en die leeggemelkte staat waarvan hy die president is) uit te roei.

Dié Magashule wat onlangs nog selfverskonend gesê het, “Maar alle ANC-leiers doen dan sake met die staat”. Wat geen probleem insien daarmee dat sy kinders op Gupta-vlerke rondrits en staatsvoordele put nie.

Wat al telkens, al dan nie in soveel woorde nie, laat blyk het “korrupsie” is iets wat deur rassiste bedink is om hom as arme slagoffer mee by te kom.

Hy, wat soos sovele kaders wat broek-om-die-enkels betrap is, aandring op “innocent until proven guilty”, wat eintlik net beteken jy mag skelm wees solank jy nie uitgevang word nie, en só skelm dat dit in die ingewikkelde doolhof van verskuilde transaksies en beslote rakmaatskappye moeilik bewysbaar is. Veral as jy lustig meewerk om diegene wat die geldspoor moet naspeur en vervolging moet instel te ontman deur jou kader-adders in hul boesem te plant en die effektiewes te ontruim.

Oor die ANC (om Churchill te verdraai): Nog nooit het sovele so hard gesukkel om een man uitgewerp te kry nie.

Ook hy wat in sy Vrystaatse premiersrede in 2014 gespog het daaroor hoe van asbesdakke in die provinsie ontslae geraak gaan word. In die wêreld van ANC-verduisteraars is miljoene rande kleingeld, maar meer as ’n afgeswendelde R200 miljoen verder is daar baie geghrieste handpalms en blink tendervoertuie, maar nog geen van die 8 000 asbesdakke is verwyder nie.

En dieselfde Magashule wat saam met ander weens die asbesdak-skelmspul op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery vervolg word.

Gert Coetzee

Sy onlangse hofverskyning was die eerste van vele.

Die vraag oor hoe geslaag die vervolging gaan wees, sal ten beste deur die nasionale vervolgingsgesag en die Valke beantwoord kan word. Hopelik in navolging van die spreekwoord Showing is better than telling.

Wat onthou moet word, is die dakfiasko was een van die drie groot katneste – almal glo ten bate van die armste armes – wat onder Magashule bedink is.

Daar is ook die Estina-bedrogskema waar room van minstens R380 miljoen (in ANC-rykmanstaal is dit moeilik om by te bly) afgeskep is. Magashule is nie een van die onlangse aangeklaagdes vir bedrog in dié swendelprojek nie, maar daarná het sy naam hieroor telkens voor die Zondo-kommissie opgeduik.

Die groot fiktiewe skema op sy wagbeurt (of skepbeurt) is egter die behuisingsbedrog waarmee meer as R1 miljard – dubbel soveel as Estina en die dakskandaal – afgeskep is sonder dat huise gebou is. Hlaudi Motsoeneng, SAUK-saboteur, en Nozuko Mbalula, vrou van Mr Fearfôkkol, minister van vervoer, se name én talle Vrystaatse kaders s’n duik in ons vroeëre berigte op.

’n Mens kan net wonder wat van vervolging in dié saak geword het.

Oor die ANC (om Churchill te verdraai): Nog nooit het sovele so hard gesukkel om een man uitgewerp te kry nie.

As dit die party laat skeur, laat hy skeur, en klaarkry. Seker nie so maklik nie – dis die ANC ter sprake.

Meer oor:  Menings  |  Ace Magashule  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.