Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Brandwonde aan die siel sal nooit verdwyn
Annelie Botes

In onlangse tye is Suid-Afrika geteister deur brande meer geweldig as wat my kop kan begryp. Nie bloot veldbrande nie, maar dorpsbrande waarin mense se besittings voor hul oë deur knetterende vlamtorings vernietig is.

Eers was dit die inferno in St. Francis toe ’n asemsnakkende getal grasdakhuise tot geraamtes verbrand het. In 2017 verswelg ’n brand sowat 700 huise in Knysna. Tussen die Baai en Jeffreys is ’n groot deel van die skool Woodridge College verkool.

Pas voor Kersfees was daar weer brandsmart in St. Francisbaai. Die Overberg. Wuppertal.

Vroeg ná Nuwejaar het die dubbelverdiepingwoonstel van ds. Rethie van Niekerk en haar man van die Somerstrand-gemeente hier in die Baai afgebrand. Die hele boonste vloer van die blok. Skynbaar was dit nag toe hulle wakker word terwyl stukke plafon deurval.

Geen tyd om iets te red nie. Hulle het in hul nagklere gevlug, met hul selfone. Hul skugter kat, wat waarskynlik onder ’n bed weggekruip het, is nooit gevind nie.

Geen tyd om iets te red nie. Hulle het in hul nagklere gevlug, met hul selfone.

As ’n mens só iets nog nie aan eie bas gevoel het nie, kan jy jou beswaarlik indink hoe ontredderend dit moet wees om middelnag in jou pajamas in die straat te staan met net jou selfoon, die somtotaal van jou besittings. Die kans is goed dat hulle versekering het en mettertyd alles kan vervang.

Álles? Aikôna. In elke mens se rotsvesting is honderde onvervangbare goedjies.

Jou dogter se eerste haarlokkie wat in ’n foto-album was. Die stinkhoutskinkbord wat jou pa gemaak het toe hy op sy einde was met kanker. Die blou Croxley-brief wat jou ma saamgegee het die eerste dag toe jy universiteit toe is. Droë roosblare uit jou trouruiker.

Dit laat my wonder: As ons huis sou afbrand, en ek het die kans om twee keer met iets in my arms uit te hardloop straat toe, wat sal ek gryp?

Kom ons sê kamma my selfoon en handsak met beursie, kaarte en ID-dokument is per toeval in die motor. Wát sal ek in my verwildering probeer red?

Vir die res van my dae sal ek emosioneel gebreklik wees oor alles wat moes agterbly.

Eerstens sal ek die motorsleutel aan my pinkie hang; die lêer met my persoonlike papiere uit die liasseerlaai ruk; my skootrekenaar en insulien. Dan is my arms vol. En dan . . .?

Ek sal my rompspante as mandjie saambondel. Die glasuiltjie wat ons Rudolph-kind op Moedersdag vir my gegee het toe hy agt was. Die skewe pienk kleipotjie wat Nasti in die kleuterskool in Bedford gemaak het. My ma se handgeskrewe resepteboek.

Ook die gryse se Sondagskoolsertifikaat met getrouheidseëls. Die kompas wat my skoonpa tydens die Tweede Wêreldoorlog langs ’n dooie soldaat in Libië opgetel het. Dan sal ek my kop laat sak om my klavier te groet, voor die vlamme my versmoor.

Vir die res van my dae sal ek emosioneel gebreklik wees oor alles wat moes agterbly om tot as te verbrand. Want dit is nie vervangbare wêreldsgoed nie. Dis sielsgoed. En ’n letsel op die siel verdwyn nooit.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Brandwonde  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.