Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Brannas het nie brieke in die bed nie

Wat gebeur wanneer Boerseun Brannas en Welaf Whiskey vir Skemerkelkie in die kroeg gewaar? Wie sal haar hart wen? vra Erla-Mari Diedericks.

erla
Erla-Mari Diedericks

Laas toe ek oor drankpersoonlikhede geskryf het, was daar ’n paar “brandewyne” en “whiskeys” wat uitgesluit gevoel het. “Wat van ons?” het die weeklaag opgeklink. Wel, spesiaal vir julle, ’n met drank deurdrenkte verhaal:

Whiskey, Brandewyn en Skemerkelkie sit in die kroeg. Skemerkelkie giggel terwyl sy haar bene kruis. Waar sy op haar kroegstoeltjie sit in haar mini-mini-rokkie, laat sy nie veel aan die verbeelding oor nie.

Skemerkelkie is nie slim nie, maar sy is slinks genoeg om ’n groot man se voete onder hom uit te slaan. Letterlik. Want al lyk Skemerkelkie heel onskadelik met haar Maraschino-kersies en sambreeltjies, het sy ’n hart van hardehout: Jenewer, wodka, tequila, rum . . . selfs whiskey en brandewyn kan in ’n skemerkelkie ingaan.

Watter soort skemerkelkie is sy? ’n Sex on the Beach of ’n Springbokkie?

Skemerkelkie is in die kroeg na die perfekte mengeldrankie-kombinasie op soek. Whiskey en Brandewyn is op soek na ’n goeie tyd. Hulle hou Skemerkelkie dop so oor die rand van hul glase. Watter soort skemerkelkie is sy? ’n Sex on the Beach of ’n Springbokkie?

Whiskey is enkellopend. Enkelmout. Welgesteld. Hy hou van sy vroue soos van sy drank: Suiwer. Beslis nie dof nie. Elegant. Volwasse. Voorgesit in ’n duur kristalglas. Want voorkoms tel.

Hy meng homself soms met skemerkelkies, maar vind dat hoewel dit altyd goed begin, eindig dit dikwels rof.

Hy het nou al geleer dat om homself te meng met Fanta, Lemon Twist of Sprite, net ’n goedkoop smaak in sy mond laat. Sodawater kan hy nog hanteer. Ook ys. Maar dan moet jy dit vinnig drink. Voordat die ys smelt en jou vertroebel.

Maar aan die ander kant . . . wie kan ’n skemerkelkie weerstaan?

Welaf Whiskey of Boerseun Brannas?

Intussen sit Brannas aan die ander kant van die kroeg. Brannas het ’n reputasie van rof en onbeskof. Daarvan getuig sy byname: Polisiekoffie. Knaterwater. Bakleiwyn. Karatewater. Kraaifontein-cocktail.

Niemand het nog ooit die moed gehad om hom te vertel dat klippies en coke in teorie eintlik ook maar net ’n sissie-cocktail is nie.

Eintlik is Brannas plat op die aarde. Soms ook platgeslaan deur die lewe of natuurlik deur ’n ander vrou se man. Maar dit daar gelaat.

Brannas hou daarvan om te dink hy is ’n ware man. Hy hou van braaivleis, brandewyn en bokkies. Niemand het nog ooit die moed gehad om hom te vertel dat klippies en coke in teorie eintlik ook maar net ’n sissie-cocktail is nie.

Brannas loer onderlangs na Skemerkelkie. Hy wonder of hy sy eiers – ag ek bedoel ses eiers – moet opklits saam met suiker om homself in ’n Advocaat-drankie om te tower. Hy het gehoor girls like Bols Advocaat en lemonade. En watter girl hou nie van ’n advokaat nie?

Intussen sit Skemerkelkie en knaag verveeld aan die steeltjie van haar Maraschino-kersie. Draai die pienk sambreeltjie om en om in haar skraal vingers.

Wie sal haar hart wen? Welaf Whiskey of Boerseun Brannas?

Whiskey roep die kelner nader. Dit is tyd om ’n drankie na die dame oor te stuur. Met sy komplimente.

Aan die ander kant van die kroeg gooi Brannas sy dop in sy keel af. Dit is nou of nooit.

Maar toe albei opkyk, is Rooiwyn besig om om Skemerkelkie te sirkel. Smeulende, romantiese Rooiwyn met sy Franse aksent en aansit-maniere.

Whiskey staan vies op en soek na sy BMW-sleutels in sy sak. Maar Brannas blik of bloos nie. Hy stamp Rooiwyn net daar uit die pad met ’n harige dik voorarm, gee Skemerkelkie ’n barskyk wat haar byna laat oorborrel van opgewondenheid en fluister: “Hei, Bokkie.”

Sy fluister terug: “Hei, Brannas.”

Want sy weet: Brannas het nie brieke nie.

Veral nie in die bed nie.

*Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Seks  |  Whiskey  |  Brandewyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.