Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bravo aan die mans wat vir my opstaan

Vir die eerste keer laat mans hul stemme hoor. En dis ’n ferm stem wat uiteindelik die woorde uiter wat ek – en elke vrou in hierdie land – wil hoor, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks Foto: Gerda Louw

My Facebook-blad het verlede week begin wendinge toon wat ek nooit gedink het ek sou sien nie. Waar mans vantevore net die #metoo-beweging afgelag het en kwaad geword het oor #menaretrash, het die aanslag van moorde en verkragtings en die noodroep #amInext blykbaar die kol getref.

Ja, dis jammer dat soveel vroue moes sterf om almal te laat wakker skrik, maar ek dink ons is nou uiteindelik op dieselfde bladsy.

Dit gaan nie meer oor die manlike ego wat aangetas word nie. Dit gaan nie meer oor die oeroue bakleiery tussen mans en vroue oor wie reg en wie verkeerd is nie. Dit is nie ’n battle of the sexes nie. Dit is ’n stryd om oorlewing. En dit wil voorkom asof mans dit uiteindelik begin besef.

Eers was dit net gay mans wat vir ons begin opkom het. Want hulle weet hoe dit voel om teen gediskrimineer te word en selfs aangeval en vermoor te word vir hul seksuele oriëntasie. Maar hierdie week het die straight mans hul stem laat hoor.

Een van die beste reaksies was van ’n man wat die volgende geskryf het: “Liewe Mans: As jy kwaad is oor die veralgemening dat alle mans sleg is of nie ingegroepeer wil word met die idee dat mans verkrag of vermoor nie – moenie kwaad wees vir die vroue wat die slagoffers is nie – wees kwaad vir die verkragters en moordenaars wat mans ’n slegte naam gee. Vat hulle vas.”

Dan was daar die foto van ’n man met sy driejarige dogtertjie, beskermend in sy verskriklik gespierde arms toegevou. As jy mooi kyk, is hulle in ’n gim. By die foto staan: “Niemand raak aan ’n vrou nie. Ons het met ons opleiding begin. Verkragters en moordenaars, ons is gereed.”

Maar dit het nou duidelik geword dat die monster onder die bed wat veronderstel is om net in donkertes te skuil en ná middernag en in gevaarlike gebiede te voorskyn te kom, nie meer die reëls volg nie.

Dis asof mans uiteindelik besef dat enigeen ’n slagoffer kan wees. Jou ma, jou dogter, jou vrou, jou meisie, jou kollega. Dit was dalk voorheen maklik om net die skouers op te haal en verskonings te soek om jouself gerus te stel. Ja, maar sy was in ’n gevaarlike woonbuurt. Ja, maar dit was in die middel van die nag, ja maar wat het sy daar gemaak, ja, maar wat het sy aangehad, of hoekom was sy deurmekaar met hom?

Maar dit het nou duidelik geword dat die monster onder die bed wat veronderstel is om net in donkertes te skuil en ná middernag en in gevaarlike gebiede te voorskyn te kom, nie meer die reëls volg nie. As jy ’n wilde dier nie vasvat nie, gaan hy die een of ander tyd uit die woud kom en die dorpenaars begin vreet.

En dis presies wat nou gebeur het. Goeie mense het te lank stilgebly en die moordenaars en verkragters het daardeur vrye teuels gekry.

Wat my bring by die volgende netelige kwessie: Moet ek dankie sê dat mans uiteindelik wakkerskrik en hul stem laat hoor? Ek sien die hele tyd hoe vroue vir mans dankie sê op hul posts oor hoe hulle vroue met respek gaan behandel en gaan beskerm. Want ons is dankbaar. Self sê ek ook dankie.

Maar moet ek?

Dis tog nie asof mans ons ’n guns bewys nie, dis tog ’n menslike plig.

Tog . . .

Ek het lank hieroor gedink. En ja, ek wil dankie sê. Want al is dit ’n menslike plig, weet ek dis moeilik om teen misdadigers op te staan. En dis vrek gevaarlik. ’n Man wat ’n vrou teen ’n ander misdadige man in die werklike lewe beskerm, stel sy lewe in gevaar.

Selfs op Facebook kan hy deur sy mansvriende aangeval word. ’n Man wat teen ’n ander man opstaan, verloor die voordele wat hy geniet het as being part of the male dominance gang.

Dus: Dankie. Bravo.

Kom ons staan saam teen die moordenaars en verkragters. Dis nie meer mans teen vroue nie. Dis die mens teen monsters.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

* Diedericks se boek Seks, leuens en die internet (Lapa) is nou landwyd op die rakke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.