Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Brexit bedreig meer as net die ekonomie

’n Sogenaamde “harde” Brexit sal nie net nadelig vir die Ierse ekonomie wees nie, maar kan ook die vrede in dié deel van die wêreld bedreig, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Voertuie verlaat ’n veerboot by Greenore in die Republiek van Ierland. Dié veerboot vervoer mense en goedere tussen die Republiek en Noord-Ierland. In geval van ’n “harde” Brexit sal dit skielik ’n internasionale grens wees. Foto: AP

Ek bevind my vandeesweek in Ierland waar Brittanje se naderende wegbreek van die Europese Unie (EU) soos ’n donker wolk oor die toekoms hang.

Brexit is vir die Iere onsinnig.

In die laaste twee dekades het die land uitsonderlik vinnig gegroei en is deesdae per capita een van die rykste lande ter wêreld. Dit is grootliks danksy Ierland se lidmaatskap van die EU en die vryehandelsblok se finansiële ondersteuning.

Brittanje se egskeiding van die EU – veral as dit sonder ’n ooreenkoms gebeur aan die einde van die maand – kan oneindig skade doen aan die Ierse ekonomie. Baie van die land se uitvoerprodukte word na Brittanje uitgevoer of via Brittanje na die Europese vasteland.

Tienduisende mense in Ierland kan hul werk verloor.

Brexit gaan egter nou veroorsaak dat mense weer moet kant kies: óf jy is Brits en uit die EU, óf jy moet oor die grens verhuis na Ierland, ’n lid van die EU.

Maar die skade aan Ierland gaan veel dieper as net die ekonomiese invloed.

Walt Killroy, professor in internasionale politiek aan die universiteit van Dublin, vertel dat daar groot kommer is oor die invloed van Brexit op die Goeie Vrydag-ooreenkoms wat in 1998 onderteken is. Dit het uiteindelik vrede gebring in die konflikgeteisterde Noord-Ierland ná dekades van oorlog.

Ek ontmoet Walt – ’n jarelange kennis – in ’n koffiewinkel in die kelder van een van Dublin se gesellige kunsmuseums. Die stad is propvol toeriste en sy inkopiegebied spog met duur ontwerpersgoedere, ’n teken van die Iere se nuutgevonde welvaart.

“Vrede in Noord-Ierland was nie gegrond op ’n wenner-verloorder-scenario nie, maar op ’n kompromie,” sê hy.

Dit het beteken Noord-Ierland, waar die pro-Britse Protestante die stryd gevoer het teen Republikeinsgesinde Katolieke het steeds deel van die Verenigde Koninkryk gebly, maar mense kon as’t ware met een voet in Ierland en een voet in Noord-Ierland bly. Dit was grotendeels danksy hul gesamentlike lidmaatskap van die EU.

Liesl Louw-Vaudran

“Die ooreenkoms het voorsiening gemaak vir ’n vloeibare identiteit. Mense kon twee paspoorte hou en dit was deel van die sukses van die Goeie Vrydag-ooreenkoms,” sê Killroy.

Brexit gaan egter nou veroorsaak dat mense weer moet kant kies: óf jy is Brits en uit die EU, óf jy moet oor die grens verhuis na Ierland, ’n lid van die EU.

Noord-Ierland het oorweldigend gestem om deel van die EU te by, maar hulle sal nou moet inval by die res van Brittanje.

“Die EU het as’t ware ’n tweede laag van identiteit gebring – ’n Europese een – benewens jou Protestantse of Katolieke of Noord-Ierse identiteit. Dit was die bydrae van die EU,” sê hy.

As Brexit op ’n chaotiese manier verloop en Brittanje op 31Oktober uit die EU “geruk” word, sal dit ’n nuwe grens tussen Ierland en Noord-Ierland veroorsaak waar mense al soveel jare vreedsaam woon – as inwoners van die EU.

Om Noord-Ierland nou weer los te sny van die suide, kan al die ou spoke van verdeeldheid en haat laat herrys omdat daar op soveel verskillende vlakke aanpassings gemaak moet word – nie net in die agtertuine of parke waar daar dalk nou skielik weer ’n grensdraad gaan verskyn nie.

Brexit is soos om ’n Siamese tweeling te skei. En as daar nie fyn gewerk word nie kan dit groot skade berokken – aan mense se welvaart, maar ook aan hul harte en gesindhede teenoor hul mede-burgers.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Europese Unie  |  Liesl Louw-Vaudran  |  Ierland  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.