SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Brexit het nou in ’n wrange grap ontaard

Eindelik het die Britse laerhuis op ’n rigting besluit. Of, akkurater gestel, hy het besluit watter rigting om nié in te slaan nie. Vandeesweek het die parlementslede met ’n meerderheid van presies één stem – 313 teen 312 – besluit dat Brexit nie sonder ’n skeidingsooreenkoms mag gebeur nie.

Leopold Scholtz

Maar watter skeidingsooreenkoms? Die enigste ooreenkoms wat bestaan, is die een wat in meer as twee jaar se onderhandelings tussen die regering van premier Theresa May en die Europese Unie (EU) tot stand gekom het. Maar dáárdie ooreenkoms is al herhaaldelik in die parlement afgestem.

Dus, wat wil die Britte hê? Niemand weet nie. Nie die Britse publiek nie, nie onafhank­like waarnemers nie, nie die EU nie, allermins die mense wat daaroor moet besluit, die parlementslede. Toe aanvanklik besluit is dat die parlementslede, synde die verkose verteenwoordigers van die kiesersvolk, enige ooreenkoms moet goedkeur, is dit begryplikerwys begroet as ’n stap wat reg aan die demokrasie laat geskied.

Immers, die kiesers het in 2016 met ’n – weliswaar klein – meerderheid vir Brexit gestem, maar die parlement moes die ooreenkoms in al sy besonderhede bekragtig.

Dis hier waar die saak in ’n chaos versink en in ’n wrange grap ontaard het. Want in ’n yslike klomp stemmings kon die parlement geen meerderheid vir enige rigting bereik nie.

En vandeesweek se meerderheid van één stem om ’n Brexit sonder ooreenkoms onmoontlik te maak, het ook geen dawerende geloofwaardigheid nie. As ’n mens sien wat die internasionale media en ander onafhanklike waarnemers oor die fiasko sê, is die waarheid dat die Britte wêreldwyd uitgelag word.

Hoe nou verder? Wel, aanstaande week moet die lords in die hoërhuis ook oor die saak stem. As hulle ook teen ’n Brexit sonder ooreenkoms is, sal dit behoorlike implikasies hê.

Op sy minste beteken dit dat die May-regering in Brussel vir ’n verdere uitstel van Brexit sal moet gaan pleit. As Brussel besluit om die Britte se versoek te verwerp, is die implikasie dat Brexit van die baan is.

Nóg ’n scenario is dat May deur die omstandighede tot ’n tweede referendum gedwing word.

Immers, die parlement se besluit is dat ’n skeiding sonder ooreenkoms nie mag plaasvind nie. Om uit dié dilemma te kom het May voelers uitgesteek na Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty. Blykbaar het hulle ’n saaklike gesprek gevoer, wat egter nog nie tot resultate gelei het nie.

Nóg ’n scenario is dat May deur die omstandighede tot ’n tweede referendum gedwing word. Omdat peilings wys dat ’n beduidende meerderheid nou téén Brexit sal stem, beteken dit ook die einde van die skeiding.

Maar wat ook al gebeur, die gebeure wys dat sowel die regerende Tories as die Arbeiders só diep verdeeld is dat ’n skeuring by albei haas onafwendbaar lyk.

Meer oor:  Brexit  |  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.