Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Brexit kan May én die Tories finale knak gee

Chaos is ’n sterk woord om die Brexit-proses in die Britse laerhuis te beskryf, maar dis dalk tog die beste een. Dinge is só deurmekaar dat letterlik énige scenario moontlik is.

Premier Theresa May se politieke toekoms hang aan ’n draadjie nadat sy twee vernederende nederlae in twee stemmings in twee dae gely het. Die een was oor ’n belastingtegniese kwessie in die geval van ’n Brexit sonder ooreenkoms; die ander dwing haar om binne drie dae met ’n alternatief te kom wanneer (nie indien nie) haar plan aanstaande week deur die laer huis verwerp word.

Die politieke betekenis van dié twee nederlae is tweërlei. In die eerste plek beteken dit dat haar politieke gesag aan flarde is. Dit is moeilik om te sien hoe sy nog lank as inwoner van 10 Downing Street kan oorleef, al is toestande so vloeibaar dat sy nie outomaties afgeskryf moet word nie. Die tweede is belangriker. Dit is dat die laerhuis die gesag oor die Brexit-proses, wat tot dusver in die May-kabinet se hande was, terugvat.

Volgens ontledings in gesaghebbende Britse koerante soos The Times, The Independent en The Guardian lyk dit of die Brexit- en “remain”-kamp hande oor die politieke verdelingslyne probeer vat. Daar is immers aanhangers én teenstanders van Brexit in al die groot partye, die Tories, Arbeiders en Libdems.

Luidens sommige berigte onderhandel May tans met linksgesinde Arbeiders om ekstra waarborge vir die regte van werknemers te gee in ruil vir dié LP’s se steun vir die pakket wat sy met die Europese Unie (EU) beding het.

As dit slaag, wat voorlopig na wensdenkery klink, is haar vel gered.

As dit slaag, wat voorlopig na wensdenkery klink, is haar vel gered.

Terselfdertyd word ook voelers tussen “remainers” in al drie groot partye uitgesteek om ’n verenigde front te vorm. Die primêre doel sou wees om ’n chaotiese Brexit sonder ooreenkoms te voorkom, maar ’n sekondêre oogmerk kan wees om ’n tweede referendum uit te roep, of om die skeidingsooreenkoms só aan te pas dat Brittanje deel van ’n Europese doeane-unie bly – ’n baie “sagte” Brexit dus.

Daar is selfs ’n effense buitekans dat dié ad hoc-koalisie kan uitkom by ’n posisie wat tans nog ondenkbaar is, naamlik om Brexit as sodanig te kanselleer. Op die allerminste sal die Brexit-datum (29 Maart) uitgestel moet word.

Wat ook al gebeur, dit lyk haas onvermydelik dat ’n vervroegde algemene verkiesing uitgeroep sal word.

Indien dít gebeur, is dit waarskynlik die einde van May se politieke loopbaan, al wys die nuutste peiling dat die Tories steeds die grootste steun (40% teenoor die Arbeiders se 34%) geniet.

Teen die agtergrond van die gapende wonde wat die Brexit-debat geslaan het, is dit egter ’n ope vraag of die Tories enigsins ’n skeuring sal kan vermy.

Meer oor:  Theresa May  |  Brexit  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.