Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Breyten se moderniteit nie sonder empatie of liefde

Die gevierde Suid-Afrikaanse digter Breyten Breytenbach vier Maandag sy 80ste verjaarsdag. Charl-Pierre Naudé kyk na die invloed wat Breytenbach op Afrikaans en Suid-Afrika gehad het.

Breyten Breytenbach was die finale nekslag vir N.P. van Wyk Louw se 17de eeuse Afrikaner. Foto: Argief

Dis nie vergesog om te sê dat Breyten Breytenbach ’n belangrike bewussynsvormer was, nie net onder mense wat Afrikaans kon lees oor die afgelope 50 jaar nie, maar ook onder Europeërs wat in die nasleep van die 1960’s geleef het.

So pas het ’n versamelbundel van sy liefdesverse uit verskillende tye van sy lewe, Rooiborsduif, verskyn.

Die 1960’s was die laaste enorme waterskeiding in die geskiedenis vir kulture wat ’n verbintenis met die Europese het. Die vorige twee waterskeidings was in die 1940’s, ná die Tweede Wêreldoorlog, en in die 1920’s, ná die Eerste Wêreldoorlog.

Die aanbreek van die postmodernisme in die vroeë 1980’s was nie naastenby so traumaties nie, meer van ’n stillerige poep wat homself langsamerhand rugbaar gemaak het. En dit het ook nie gepaard gegaan met daardie vreemde hoop van ’n totaal skoongebrande horison nie.

Breyten Breytenbach het die moderniteit in die konsistorie kom los, oornag, soos dinamiet op ’n timer. Foto: Argief

Van die jare 60, wat menige groot skrywersnaam in Europa en ook The Beatles en The Rolling Stones opgelewer het, was Breyten ’n herout in Suid-Afrika. Sien dit in die lig daarvan dat N.P. van Wyk Louw geskryf het dat die Afrikaner tot in die 1920’s nog 17de eeus in lewensuitkyk was.

Rooiborsduif verskyn in die jaar van Breyten se 80ste verjaardag – ’n gedagte wat bykans onmoontlik is. Want die liriese stem, wat ek steeds op enige moment in my kop kan hoor, is jonk en energiek, skraal-klinkend soos wind om ’n hoek, dan weer ryk en dik soos vrugtesap wat met ’n lepel ingeskink moet word.

Laasgenoemde het ek altyd smiddae in die lou son gaan koop, by die winkel onder waar Beach Road eindig en die leë karavaanpark begin. En waar Suid-Afrika hels eensaam kon raak, soms letterlik kon verdwyn het as dit begin motreën en niemand anders is in sig nie.

En my vriend Frans, wat later ’n sendeling in Europa, die “verlore kontinent”, sou word, het soms langs my geloop en skater vir my skewe aanhalings van die “banneling-digter” met “die naam wat hakkel”, Breyten Breytenbach, oor blomme en stiltes en voëljieboude en ongeskikte eende in die begraafplaas, en ’n plek genaamd “wit Wellington”.

Oor die man wat skryf oor hoe verkeerd apartheid is.

“En hy skryf oor homself, oor hoe hy voel!”

Die Dood kan lewend wees . . .

Charl-Pierre Naudé

Ek onthou my eerste kennismaking met sy gedigte, dit was vroeg in die hoërskool, in Die groot verseboek wat ek uitgeneem het by die Nahoon-biblioteek. Ek wou meer uitvind oor die man wat ’n gedig in die koerant gehad het met die titel “Die dood se naam is Amerika”. Daar ontmoet ek toe ook vir Trixie, die hond wat lam geword het in Stilbaai, en ’n ma met die naam Ounooi.

Ag, dis sad, was my sussie se kommentaar oor die meeste gedigte.

My lewe het verander toe ek lees van koekoekklokke in ruimteskepe. Houston, Texas? Oukei, David Bowie se “Major Tom” het dalk later skrams naby gekom. Maar intussen het die toetspatroon op televisie my niks gewys wat met sulke woorde kon vergelyk nie.

Dié reëls het my laat dink aan die trein wat ek uit appelkissies in my ouers se tuin wou bou toe ek klein was, ’n regte trein. Wat ek self by die driveway uit sou bestuur. Ongelukkig het my plan op die rotse geloop.

En hier kom Breyten, en hy doen dit. Nevermaaind dat dit op papier gestaan het. Pleks dat ek dit self só probeer het.

Kyk, van digters het ek toe al gehoor, mense wat soms frilletjies dra soos A.G. Visser, maar vir die eerste keer het ek daadwerklik besef dat dit nie ’n soort gestorwe spesie is nie, soos die wandelende monnike van Rusland, of die verlore stamme van Israel nie. Of die haarkappers van Honda nie.

En dat die Dood nie noodwendig iets is wat in die graf lê nie, maar wat springlewend kan wees en soms op die “beeldradio” kan verskyn, soos Amerika. Hoewel ek nie seker was hoe daardie misterie sou werk nie. Maar ek sou nog uitvind. My vriend Uwe het gemeen dit het iets met die Boeddhisme te doen en dat ’n mens maar versigtig moet wees.

Hy het moderniteit in die konsistorie gelos.

Breyten was die finale nekslag vir Van Wyk Louw se 17de eeuse Afrikaner. Hy het die moderniteit in die konsistorie kom los, oornag, soos dinamiet op ’n timer. En die geraas was oorverdowend strelend. Maar die kerke staan nog.

Want hy het dit nie sonder empatie of liefde gedoen nie. Noem dit die hoop van die skoongebrande horison. En miskien ook van liefde.

* Charl-Pierre Naudé is ’n skrywer en digter van Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Breyten Breytenbach  |  Charl-Pierre Naudé  |  Afrikaners  |  Apartheid  |  Afrikaans  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.