Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bring weer die weeraanbieders terug

Die persoonlike element in televisie-weernuus is geskrap en ons huisteater sal nooit weer dieselfde wees nie, skryf Rhynie Greeff.

’n Operasie met gehoor in die Charing Cross-hospitaal in Londen in 1901. Foto: Getty Images

In die film My Octopus Teacher gee ’n duiker ons ’n ontroerende natuurles met menslikheid. So het die dokumentêr ’n Oscar gewen, want die aanbieder het kykers geboei met die band tussen mens en natuur.

Kan die nuuskanaal eNCA (met sy onderafdeling eNuus, wat aan kykNET verskaf word) tans ook ’n prys wen?

Ek dink nie so nie, want die band tussen die mens en die natuur is onlangs soos ’n vlieg weggeklap met die verwydering van TV-weeraanbieders.

Baie nuuskanale verstaan die rol van die natuur. Sky het nou daagliks ’n klimaatsprogram. Maar nee, nie eNCA en eNuus nie, want verlede maand het hul bestuur, uit die bloute, korporatiewe amputasie gepleeg. Afgedankte stukkies TV-weeraanbieders is opgestuur na daardie Groot Barometriese Depressie in die Hemel.

Amputasie en mediese operasies is miskien ’n goeie beginpunt om na eNCA en eNuus se weerfiasko te kyk.

Teaters

’n Tipiese anatomieteater. Foto: Getty Images

Het jy al ooit gewonder hoekom ons dikwels praat van ’n operasieteater in ’n hospitaal? Hoekom het die rolverdeling in operasieteaters ook teaterverpleegsters en teatersusters?

Wel, snydokters se werk was eens op ’n tyd aangrypende teater. Dit het begin met anatomieteaters. Die Anatomieteater van Padua is al in 1595 ingewy met galerye vir toeskouers.

Mediese teaters het daarna oral ontluik en van disseksie na gewone operasies oorgegaan. Toeskouers kon kaartjies koop om die skouspel te kom bekyk terwyl musikante hulle vermaak. Tot omtrent 1917 was mense in mediese amfiteaters met toeskouergalerye geopereer.

En die toeskouers was nie net mediese mense nie. Nee. Operasies is soms in koerante geadverteer en operasies is selfs uitgestel om eers kaartjieverkope te verhoog. Die hoofakteurs, die snydokters, het dikwels applous ontvang.

Daardie mediese teaters en ons teaters van vandag het baie met mekaar gemeen, want teaters sentreer om akteurs en aktrises met menslike stories wat jou emosioneel raak en jou lesse leer.

Huisteaters

Dokters besig met ’n operasie in ’n amfiteater in die Bellevue-hospitaal in New York. Foto: Getty Images

Vandag het ons huisteaters – televisiestelle – waarop ons die disseksie van realiteit as TV-nuus volg.

Ek is al jare lank in strategiese bemarking en het al dikwels sakebestuurders gevra of hulle hul besigheid werklik verstaan. So, my vraag nou is: Wat is die besigheid van TV-nuus? Is dit net die oordrag van feite en gebeure, of is dit ’n vorm van realiteitsteater wat kykers raak?

Ek dink eNCA en eNuus se besigheid is eintlik om kykers waardevolle realiteitsteater te gee.

Presidente van Cyril Ramaphosa tot Joe Biden, Emmanuel Macron en Wladimir Poetin gebruik gebare, oogkontak, woorde en teatrale stiltes om emosie te wek.

Hoekom? TV-nuus gaan dikwels oor oorlog en politiek. Die begrip van ’n oorlogsteater bestaan reeds lank. Die Pruisiese generaal Carl von Clausewitz het die term Kriegstheater (Oorlogsteater) in sy boek gebruik, gegrond op ’n ou Latynse term theatrum belli. Die begrip word vandag nog gebruik.

Ek sien baie politieke teater op TV-nuus. Presidente van Cyril Ramaphosa tot Joe Biden, Emmanuel Macron en Wladimir Poetin gebruik gebare, oogkontak, woorde en teatrale stiltes om emosie te wek.

TV-nuus is deel van daardie teater van realiteit.

Die weer

Joel Guy Chabata verlaat eNCA se kantore vir oulaas. Foto: Twitter

As deel van algemene nuus is weernuus op TV vir my ook deel van die huisteater. Nie alle kykers vind alle nuusonderwerpe interessant nie. Rioolwater in Randfontein is miskien maar randnuus.

Die een nuusonderwerp waarin die meeste mense egter wel belangstel, is die weer.

Een van die beste opsommings van weernuus vir my was nog altyd in Paul Simon se liedjie “The Only Living Boy in New York” waarin hy sing: “Oh, I can gather all the news I need on the weather report.”

Ou Enigste Seun Paultjie, nee, nie meer hier rond nie.

Vriendelike Joel “Guy” Chabata van eNCA en eNuus se aangename meisies, Anette Botha en Anika de Beer, is weg. Hulle wys nie meer vir jou met oogkontak en bewegings hoe kouefront-wolke oor die see Afrika nader nie. Hulle wys nie hoe tropiese storms van die Indiese Oseaan inskuif nie. Weg is die een-tot-een-gevoel van ’n mooi weeraanbieder wat jou in die oog kyk en waarsku oor moontlike sneeu, warm bergwindtoestande se rigting, gevaarplekke, waarskuwings van reën of hittegolwe. Weg is daardie aanbieder wat moeders waarsku om hul kinders môre warm aangetrek of met reënjasse skool toe te stuur.

Anika de Beer

Weg is die gholfspeler, soos ek, se voordeel om visueel van iemand te leer van windrigtings en wolkfronte op môre se baan. Miljoene kykers sit nou soos sampioene in die donker.

Hoe het eNCA/eNuus die persoonlike element in die weer geskrap?

Die bestuur het gesê: Haai, julle. Hier is iets digitaal vir die oog. Kyk net na hierdie pragtige flitskaarte. Statiese beelde is darem treffend leersaam, nè. Ag en luister ook na hierdie herhalende plienketie-plonk digitale musiek waarmee ons blaaikaarte so asemrowend opgeluister word. Hallo, laerskoolmaatjies, Juffrou en Meneer van TV-bestuur vra dat julle hierdie flitskaartjies mooi moet leer, hoor. En julle karnallies moet maar vinnig kyk, want die kaarte verander elke paar sekondes. Jy sal die een of ander tyd ’n temperatuur sien van ’n dorp naby jou.

Juffrou, Meneer, ek dink daar is ander maatjies wat ook die advertensies voor die plienketie-plonk kamerverlaat.

Haai, juffrou Afdanker, hello, meneer Bestuurman. Ek is só jammer, maar ek was 'n bietjie stout. Ek hou nie van daai flitskaartjies nie en nou, net so wanneer die sportgedeelte van eNuus klaar is, doen ek ’n kamerverlaat na ander kanale of Netflix. Ek weet daar was vyf insiggewende advertensies waarna ek moes kyk voor die weer, maar ek het gedros.

Juffrou, Meneer, ek dink daar is ander maatjies wat ook die advertensies voor die plienketie-plonk kamerverlaat.

Nou, ná ’n ruk, lyk dit my Juffrou en Meneer-hulle het wel die digitale flitskaarte opgegradeer met groter statiese skoolprentjies van streke en die nuusleser van die aand in ’n digitale spookstem wat ons oor die prentjies aan die slaap praat.

Anette Botha

Ja, sug. As bemarkingstrateeg onthou ek hoe die weeraanbieder Derek van Dam (nou by CNN) met die aanvang van eNCA van 2008 tot 2014 die nuuskanaal se waarde geskep het. Derek se weer was swaartekrag wat kykers getrek het.

Nou kan ek maar net wonder watter onweer eNCA/eNuus beleef het om die weermense te laat gaan.

Was dit ’n soort van Covid-19-reaksie met 'n sakeneiging om werkers weg van die kantoor te kry en digitaal op afstand? Is dit ’n grendelresutaat om interaktiewe mense met statiese digitale prentjies te vervang? Was dit om salariskoste te bespaar? Het die bestuur gedink die weer sonder aanbieders verleen groter waarde aan kykers?

Rhynie Greeff

Wat van die verlies aan inkomste omdat kykers nie meer advertensies in die pouse voor die flitskaarte volg nie? Sal daardie adverteerders tussen sport en plienketie-plonk musiek hul advertensies wil terugtrek of kosteverlaging in tariewe soek?

Dan is daar verlies aan rakspasie. TV-nuus is ’n produk soos ’n produk in ’n supermark. As die firma sy produk se rakspasie opmors, verloor hy rakspasie en is dit dikwels moeilik om weer op die rak te kom. Kopers koop ander produkte.

Daar is nou getorring met die weergedeelte van eNCA/eNuus se produk. Kopers/kykers kan elders verskuif en selfs na selfoon- en rekenaartoepassings – nie net vir weervoorspellings nie, maar vir alle nuus.

As ’n TV-nuuskanaal sy kykers soos wildebeeste in ’n ander migrasieroete wegjaag, hoe maklik kan die weggejaagdes teruggekry word?

Een se inkomsteprobleem is ’n ander se inkomstegeleentheid.

Miskien moet Netwerk24 ’n daaglikse video-aanbieding van die weervoorspelling begin dra.

Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Enca  |  Paul Simon  |  Anika De Beer  |  Weer  |  Teater  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.