Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Brittanje moet maar solank begin vetsmeer

Stadigaan begin die kontoere van Brittanje se toekoms deur die mis opdoem: Die kans op ’n chaotiese, onbeheerde Brexit neem steeds toe.

Dít is die gevolgtrekking op grond van die jongste gebeure in die Britse parlement en die reaksie van die 27 regeringsleiers van die Europese Unie (EU) op ’n spitsberaad eergisteraand in Brussel.

Premier Theresa May het daar aangekom met die versoek dat Brexit van 29 Maart tot 30 Junie uitgestel word.

Dit moes haar tyd gee om die parlement te oortuig om die bestaande skeidingsooreenkoms met die EU goed te keur nadat die LP’s dit reeds twee keer verwerp het.

Europa wou egter nie daarvoor val nie. May is na West­minster terug­gestuur met wat op ’n ultimatum neer­gekom het: Ons gee jou uitstel tot 22 Mei, míts die laerhuis aanstaande week ’n duidelike besluit – wat dit ook al is – kan neem. Die frustrasie in Europa is naamlik dat die parlement tot dusver slegs ’n meerderheid kon monster vir wat nié moet gebeur nie, nie oor wat dan wél moet gebeur nie.

Die datum van 22 Mei is nie om dowe neute gekies nie. Die volgende dag vind die verkiesing vir die Europese parlement in alle EU­lande plaas, en as Brittanje dan nog ’n lid is, moet hy deelneem, anders duik allerlei regsprobleme op.

As die parlement aanstaande week wéér nie ’n besluit kan neem nie, het May verneem, sal Brittanje op 12 April úit wees. Basta.

Die deure na alle ander alternatiewe vir Brittanje word nou die een ná die ander toegeklap.

As ’n mens ewenwel die gevoel in die Britse parlement bekyk, lyk die kans dat LP’s aanstaande week May se bestaande ooreenkoms met Brussel sal goedkeur, gevaarlik na aan nul. Daarvoor is daar te veel ideologiese stokperdjies, ego’s en ordinêre magswellus betrokke.

May het dié week die Britse kiesers regstreeks toegespreek om druk op die politici te plaas. In die proses het sy, nie sonder rede nie, die skuld op die LP’s gepak.

Dit het egter tot ’n opstand in haar eie koukus gelei. Selfs sommige van haar ministers, en haar Konserwatiewe Party se hoofsweep, Ju­lian Smith, het hulle teen haar gekeer.

Een van die hardste Brexit-voorstanders, die Tory Mark Francois, het aan The Times gesê: “As jy LP’s probeer oorhaal om ’n voorstel te steun, doen jy dit nie deur hulle te beledig nie.”

Vriend en vyand is dit eens dat May se leierskap aan flarde lê. Die kans dat sy teen die aanbreek van die Europese somer steeds premier is, is besonder klein.

Noudat die deure na alle ander alternatiewe – die bestaande ooreenkoms, ’n vervroegde algemene verkiesing, ’n tweede referendum – die een ná die ander toegeklap word, bly toenemend slegs één oor. Dit is dat Brittanje se ankertou na die EU op 12 April afgekap word.

En dan?

Meer oor:  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.