Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Buitelandse bande is deel van ons erfenis

Onlangs sterf een van die bekendste en mees omstrede Nederlandse teoloë, Harry Kuitert.

By Kuitert se afsterwe het ek besef hoe mense wat in ander lande woon maar met wie se insigte jy oor dekades heen omgaan, in der waarheid vriende en reisgenote geword het op jou lewensreis. Hule het stilletjies deel van jou menslike erfenis geword.

Die uitlokkende Kuitert het ons geleer dat alles politiek is, maar dat politiek nie alles is nie. Daarmee suggereer hy ons moet weet politieke prosesse beïnvloed alle fasette van ons lewens, maar die lewe is meer as net politieke prosesse. Op die voetspoor van Kuitert kan ons redeneer dat alles geld is, maar dat geld nie alles is nie.

Kuitert het ook geredeneer dat kerke en ander godsdienstige instellings nie moeders van moraliteit is nie, maar belangrike voeders en hoeders daarvan. Hy redeneer in sy vroeëre werke dat morele insigte by alle mense, binne en buite geloofsgemeenskappe, teenwoordig is op grond van God se insluitende skeppingsheil. Só baan hy ook die weg vir dialoog tussen mense van verskillende godsdienstige en sekulêre lewensbeskouinge.

’n Sentrale tema van Kuitert was sy pogings om geloofsbeskouinge sover moontlik intellektueel insigtelik te maak vir medegelowiges en mense buite die geloofsgemeenskap. By hom sing geloof en rasionaliteit ’n duet, en is hulle nie in ’n tweestryd gewikkel nie.

Elke volk het mos maar sy eie swakheidjie.

Die afgelope Saterdag sê ons vaarwel aan dr. Boetie Goliath, ’n beminde predikant van die VGK. Een van sy blywende erflatings is sy briljante preke en referate as teoloog en onderwyskundige. Kuitert beklemtoon juis dat niks van daarbo gesê kan word wat nie van benede kom nie. Daarmee open hy ons oë daarvoor dat ons geloofs- en morele uitsprake van benede kom, van mense af, en dat ons dit nie te gemaklik hemelse, onaanvegbare status moet gee nie. Ook geloofsuitsprake moet oopstaan vir kritiese oorweging. Geloofsuitsprake moenie “conversation stoppers” wees nie.

Kuitert erken die veelheid van morele beskouinge binne en buite geloofsgemeenskappe. Hy lewer ’n pleidooi vir morele besluitneming wat rasioneel verantwoordbaar en insigtelik is; hy pleit vir getroue soeke na konsensus; hy pleit dat waar sogenaamde “incommensurability” (onversoenlikheid) bestaan vanweë botsende lewensbeskouinge en uitgangspunte, ons moet aanhou praat en steeds samewerkingsmoontlikhede soek. Hy noem etiek juis in dié verband ’n praatvak.

In 1994 besoek ek en ds. Willie Engelbrecht Kuitert aan huis in Amstelveen. Hy skink koffie en sê goedig met verwysing na die lekker koffie: “Elke volk het mos maar sy eie swakheidjie.” Ons is dankbaar dat hierdie teoloog en etikus met sy swakheidjies deel van ons erfenis is.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Rubrieke  |  Erfenis  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.