Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Burgery lei toe politici nie help
Vrywilligers van die Legends Barbershop het as deel van hul Mandeladag-inisiatief die Protea Glen-winkelsentrum help opruim, wat onder plundery en onluste deurgeloop het. Foto: Moonflare Production
Raymond Willemse

Die onlangse geweldpleging en plundery het ’n massiewe politieke vakuum in Suid-Afrika blootgelê. Dit was nie net die regerende party wat in sy afwesigheid geskitter het toe die land gebrand het nie. Opposisiepartye was maar ewe nutteloos wat betref ware­ leierskap toe mense hoop broodnodig gehad het.

Oudergewoonte het die opposisiepartye geraas gemaak en op die foute van die regering gewys. Min van hulle het die moeite gedoen om op grondvlak ’n verskil te probeer maak.

Toegegee, John Steenhuisen, DA-leier, was enkele dae nadat die onrus in KwaZulu-Natal uitgebreek het, wel in die provinsie om die skade te bekyk.

En ja, die ANC is grootliks vir die ondergang van die land verantwoordelik, maar dis die publiek wat soos altyd die grootste prys betaal. Dit is asof sommige opposisiepartye hande gevou agteroor gesit en die onluste gesien het as die ANC se ondergang – ’n gemors wat die regerende party self moet oplos.

In verkiesingstyd maak politieke partye allerlei beloftes aan kiesers oor hoe hulle gaan regeer wanneer hulle eers aan die bewind is. Die laaste paar donker dae was ’n gulde geleentheid vir hulle om aan die kiesers te wys wat in hulle steek. Hulle het egter hul Mandela-oomblik misgeloop om leierskap te midde van ’n krisis te toon.

Ná die sluipmoord op Chris Hani in 1993 was daar ernstige spanning in die land. Oudpres. Nelson Mandela, toe nog nie eens president nie, het ingetree en die gemoedere gekalmeer.

Selfs die taxibestuurders het meer ruggraat as die polisie gewys.

Dit is in skerp teenstelling met die EFF se boodskap van die laaste tyd. Toe die weermag ontplooi is om reg en orde te handhaaf, het Julius Malema, EFF-leier, gedreig dat die rooi barette ook die strate sal invaar. Hy het verkies om petrol pleks van water op die vuur te gooi. Malema is wel reg dat ’n poli­tieke oplossing vir die politieke probleem nodig is. Wat die oplossing is, sê hy nie.

Maar dit is grotendeels gewone mense wat in dié tye ’n verskil gemaak het. En die les wat die burgery oor die onlangse gebeure moet leer, is hoe irrelevant politieke partye geword het. Dit is nie politici wat dadelik op die hulpkrete gereageer het nie. Dit is gewone mense, buurtwagte en burgerlike organisasies wat die helde was.

Selfs die taxibestuurders het meer ruggraat as die polisie gewys.

Dat daar so min politici in die voorste linie was, moet vir ons almal ’n bron van kommer wees.

Iemand soos Mandla Msibi, LUR vir landbou, landelike ontwikkeling, grondsake en omgewingsake in Mpumalanga, verdien ’n klop op die skouer.

Toe daar sprake van moontlike plundery by ’n winkelsentrum in Mbombela was, het Msibi persoonlik seker gemaak dat die sentrum teen plunderaars beskerm word. Hy het nie soos ander politici uit die gemak van hul huis die onluste op sosiale media veroordeel nie. Hy was op die grond, waar dit saak maak.

Danksy Nhlanhla Lux van Soweto kon plunderaars nie die Maponya-winkelsentrum, die grootste in Soweto, plunder nie. Hy en ’n groep inwoners het hul lewe op die spel geplaas. Hulle slaap elke aand by die sentrum om dit te beveilig terwyl politici snoesig in ’n warm bed lê.

Ons tel nog die stukke op van hierdie donker tydperk. Maar wat nou? Daar is soveel tekens dat Suid-Afrikaners na eenheid smag en streef. Al wat ons nodig het, is leiers van kaliber.

Daar is Suid-Afrikaners wat enorme talent en die dryfkrag het om van die land ’n sukses te maak, maar dis nie die huidige klomp politici nie.

Wanneer die munisipale verkiesing gehou word, moet daardie individue wat ware leierskap in die krisis getoon het, hul hand opsteek.

  • Willemse is ’n redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Raymond Willemse  |  Plundering  |  Politici  |  Kzn-Herstel  |  Gemeenskappe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.