Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Carien du Plessis: Geregtigheid vir slagoffers onwaarskynlik

Onthou julle nog daardie dae toe ’n sekere president se kabinetskommelings in die laatnag die land meer in die duister gelaat het as enige van Eskom se streke?

Voormalige pres. Jacob Zuma het sy kabinet meer as tien keer herrangskik in sy nege jaar in die stoel. Hy het sodoende verseker dat ministers persoonlik lojaal sou wees aan hom.

Politiek het ’n groot rol gespeel, en dit is steeds ’n belangrike oorweging, veral omdat pres. Cyril Ramaphosa se steun in die ANC nie so ’n oortuigende meerderheid is as wat Zuma s’n was nie.

Onder Ramaphosa is daar ook ’n groter mate van deursigtigheid en voorspelbaarheid, maar die politiek verduidelik hoekom hy mooi toesprake kan lewer terwyl sy ministers hom die volgende dag in die steek laat. Hy het hulle net so nodig as wat hulle hom het. Dit is egter nie juis iets wat openbare vertroue in die regering bevorder nie – ’n belangrike komponent in enige gemeenskap se stryd teen die Covid-19-pandemie.

Bekwaamheid speel darem ook ’n rol. Só het Zweli Mkhize byvoorbeeld nie net in die gesondheidsportefeulje beland omdat hy ’n belangrike steunbasis in KwaZulu-Natal verteenwoordig waar hy premier en LUR vir gesondheid was nie. Hy het ook mediese kwalifikasies en weet net soveel van openbare gesondheidsorg as van die politiek.

In dié tye van rampbestuur staan die swakker aanstellings duidelik uit.

Nkosazana Dlamini-Zuma het ’n steunbasis in die ANC wat byna so groot is soos Ramaphosa s’n, maar sy het ervaring van meer as twee dekades in die kabinet – en binnelandse sake is byna ’n dekade gelede onder haar leiding reggeruk. As minister van samewerkende regering is sy verantwoordelik daarvoor om die munisipaliteite in orde te kry voor volgende jaar se munisipale verkiesing, maar te oordeel aan hoe baie sukkel om basiese dienste soos water te lewer, is daar niks minder as ’n wonderwerk nodig nie.

In dié tye van rampbestuur staan die swakker aanstellings duidelik uit. Polisieminister Bheki Cele, met sy skop-skiet-en-donder-benadering tot reg en orde, is bloot gevaarlik. Dié voormalige Zuma-ondersteuner was een van die belangrikste figure in Ramaphosa se presidensiële veldtog toe hy in 2017 gehelp het om baie van die steun in KwaZulu-Natal in Rama­phosa se guns te swaai. KwaZulu-Natal is die provinsie met die grootste ANC-ledetal, en Ramaphosa sal Cele se voortgesette steun nodig hê om in 2022 herkies te word.

Daar is egter reeds 12 mense dood weens polisieoptrede tydens die staat van inperking en byna ’n kwartmiljoen mense is die afgelope twee maande of so in hegtenis geneem omdat hulle die regulasies oortree het (as die vermeende korruptes maar so entoesiasties aangekeer kan word!)

Alhoewel Ramaphosa Suid-Afrikaners om verskoning gevra het vir hardhandige polisieoptrede, was daar tot dusver min sigbare gevolge vir hierdie polisiebeamptes. Al wat Ramaphosa verlede Sondag in ’n gesprek met redakteurs hieroor kon sê is: “(Die polisie) het toegelaat dat hul entoesiasme die oorhand kry.”

Dis min troos vir die families van die dooies wat sou wou sien dat reg geskied. As daar na ’n vorige presedent gekyk word, is daar nie juis veel hoop op geregtigheid nie.

Dit is nou byna agt jaar sedert 34 Marikana-mynwerkers deur polisiebeamptes doodgeskiet is, en steeds is daar geen nagevolge vir dié wat verantwoordelik was vir die sterftes nie.

Meer oor:  Carien Du Plessis  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.