Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Carien du Plessis: Hy sál bly, al is ons Rama-forie nou Rama-voos

Is Cyril Ramaphosa Suid-Afrika se swakste president? Die African Transformation Movement (ATM) dink so. Hierdie nuweling, wat twee LP’s sedert 2019 het, wil ’n mosie van wantroue in die Nasionale Vergadering teen Ramaphosa instel omdat hulle glo hy nie met werkloosheid en ongelykheid afreken nie. Daar is ’n algemene gevoel dat ons van Rama-forie na Rama-voos gegaan het in net twee jaar. Volgens ’n Ipsos-meningspeiling (vir wat peilings werd is) het die persentasie Suid-Afrikaners wat tevrede is met sy presidentskap van 70% in 2018 tot 62% aan die einde van verlede jaar gedaal.

Byna elke ontleder met ’n mening maan nou dat Ramaphosa se greep op mag gly. Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, se onlangse uitlatings dat ANC-LP’s nie sal stem om die openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane te verwyder nie, is skynbaar teenstrydig met Rama­phosa se pogings om korrupsie te beveg. Die party se spoedige verklaring dat dit Magashule se persoonlike mening is, wys egter Ramaphosa se greep op die party is sterk. Magashule het, terloops, glo ’n aandeel aan die stigting van die ATM gehad – dieselfde party wat nou dink Ramaphosa is die swakste president ooit.

Van Ramaphosa se ondersteuners in die ANC reken egter dinge beweeg te stadig. Hulle het byvoorbeeld gehoop dat Magashule teen hierdie tyd al agter tralies of in ’n hof sou wees vir die beweerde korrupsie toe hy Vrystaat-premier was.

24% van die ANC se stemme het verlede jaar uit Gauteng gekom – Ramaphosa se grootste steunbasis.

Mense wat Ramaphosa egter lank ken, sê hy sny probleme fyn en stadig uit, dalk weens sy regs-agtergrond. As ’n debat oorverhit, koel hy dit af deur ’n proses voor te stel, soos wat hy met die grond-debat in die parlement gedoen het. Sodoende skuif hy die druk van homself af. Dit maak dit moeiliker vir sy opponente in die ANC om ammunisie teen hom te kry om hom aan te val, soos wat sommige wil doen op die party se nasionale algemene vergadering in Junie.

Die ANC het egter minder beweegruimte nou by die stembus, en die 57,5% wat die party in die algemene verkiesing gekry het, raak gevaarlik laag. Toe partylede by die nasionale algemene vergadering in 2005 teen Thabo Mbeki begin rebelleer het, het die party nog 69,69% steun die jaar vantevore by die stembus gekry.

Ramaphosa is steeds ’n stemwenner vir die party. Die ontleder JP Landman sê 24% van die ANC se stemme het verlede jaar uit Gauteng gekom – Ramaphosa se grootste steunbasis. Dis meer as die 22% in 2014 uit Jacob Zuma se tuisprovinsie van KwaZulu-Natal. Die ANC in Ramaphosa se tuisprovinsie van Limpopo het gesonde groei getoon vandat hy in 2017 verkies is en het van die party se vierde grootste tot tweede grootste provinsie gegaan. Ramaphosa se teenstanders is ook bewus dat daar nie ’n sterk kandidaat is om by hom oor te neem nie. Sy adjunk, David Mabuza, is dalk die waarskynlikste uitdager, maar niemand in die ANC vertrou hom meer nie nadat hy in 2017 ter elfder ure sy steun van Nkosazana Dlamini-Zuma na Rama­phosa geswaai het.

Die ATM se mosie van wantroue sal waarskynlik misluk. ANC-LP’s is bekend daarvoor dat hulle bankvas agter hul president staan, terwyl onsekerheid oor Ramaphosa se opvolger baie opposisie-LP’s senuagtig sal maak.

Ramaphosa sal president bly, ten minste tot die ANC se 2022-konferensie, maar moontlik selfs nog daarna.

* Carien du Plessis is ’n medeskrywer aan die boek Understanding South Africa, wat binnekort verskyn.

Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.