Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Carl Niehaus het jou aan bôls beet, mits ...
Charles Smith

Ek het omtrent met my pa se Nissan NP200-bakkie teen ’n paal vasgery toe ’n knaap van skaars 30 in ’n klassieke Rolls-Royce in Bloemfontein verby my ry. Die veteraanmotor se nommerplaat: Royal FS.

As ek nie geweet het dat Duduzane Zuma die Vrystaat vanuit Dubai regeer het nie, sou ek gesweer het dit was hy agter die stuur. Jy kon die selfversekerdheid en arrogansie van die kêrel aanvoel. Ek het skaars die woede in my onder beheer gekry, toe ’n splinternuwe, wit Porsche Panamera een aand teen skemer verby my huis ry. Nog sonder nommerplate.

Ek het toe juis probeer somme maak hoe ek die kragrekening kan betaal aan Centlec, die kragvoorsiener vir Bloemfontein, waarvan Dudu Myeni, Jacob Zuma se spesiale gesant by die SAL wat die lugdiens verwoes het, tot onlangs die voorsitter was, en dan besef jy dat jy in ’n gekkeparadys woon. Een waarin die gewone ou vir die gek gehou word.

Ek kry ál meer die gevoel dat ons in ’n gekaapte staat woon waarin die regering ’n sideshow is en staatska­pers die kitaar slaan.

Die luukse motors en kuiers met duur dop in boetiek-hotelle word net meer.

Die luukse motors en kuiers met duur dop in boetiek-hotelle word net meer. Hulle kyk saans hoogtepunte van die Zondo-kommissie met whiskey en sigare en lag hulself in ’n koma. Hoe slegter dit gaan met die Vrystaat se ekonomie, hoe meer Porsche’s, Ferrari’s, Lamborghini’s en selfs Maserati’s sien jy in die stad. Meestal met FS-nommerplate. En ja, hulle lewe soos koninklikes. Gekoop met ons geld.

Ek onthou die toneel voor die landdroshof in Bloemfontein kort voordat Ace Magashule op 21 aanklagte van korrupsie en geldwassery verskyn het. Drie van sy adjudante in Staatskaping Onbeperk (die radikale ekonomiese transformasie-troep) het koppe bymekaargesit om taktiek te bespreek: Carl Niehaus in sy Pep Stores-kamoefleer-uniform en -masker, Supra Mahumapelo in ’n Gucci-pak en -masker en Tony Yengeni met ’n Lenin-pet op die kop. Drie Rolex-kommies aan die konkel. Dit is die bere met Zuma en Ace wat die land aan die bôls beet het.

Omdat ons dit toelaat. Ons sit soet by die huis en betaal ons belasting. Ons luister wat Cyril sê.

Omdat ons dit toelaat. Ons sit soet by die huis en betaal ons belasting. Ons luister wat Cyril sê. Ons woon kerk by en kla as ons vullis nie verwyder word nie, maar verder sê ons nie boe of ba oor die staatskapers nie.

Want ons is hul prokureurs wat die transaksies beklink, die eiendomsagente wat hul huise help uitsoek, die verkoopslui wat vet bonusse kry as ons die duur karre aan hulle verkoop.

Ons is net so deel van staatskaping as die kapers self. Ons gee legitimiteit aan die stelsel.

Elke dag wat ons dié lewenstyl aanvaar, kruip die kanker dieper die samelewing in. Niks gaan verander voordat nie met hofbevele beslag gelê word op die karre en huise om dienste te betaal nie. Jy kán dit doen. Help die netwerke uitwys.

Carl Niehaus moet weet jy gaan druk plaas op die gereg om die houding soos die vals uniform van sy lyf te stroop. Ons wil hulle almal in oranje oorpakke sien. Sonder Gucci op die bors.

Meer oor:  Charles Smith  |  Korrupsie  |  Staatskapers  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.