Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Chaos, só lyk dit, is Amerika se voorland

Die Franse noem dit déjà vu – iets wat jy al voorheen beleef het. Hier verwys ek na die Amerikaanse presidentsverkiesing, wat in sekere opsigte soortgelyk aan dié van 2016 verloop.

Dalk die opmerklikste ooreenkoms is die flagrante inmenging deur Rusland. Die drie belangrikste Amerikaanse inligtingsagentskappe – die CIA, FBI en NSA – het onlangs in ’n uiters geheime verslag tot die gevolgtrekking gekom dat pres. Wladimir Poetin waarskynlik persoonlik agter ’n operasie sit om die Amerikaanse kiesers téén die Demokrate se kandidaat, Joe Biden, te swaai en hulle agter pres. Donald Trump te laat inval.

The Washington Post het vandeesweek berig dat hy insae in dié verslag gehad het. Die eerste sin van die verslag lui glo: “Ons meen pres. Wladimir Poetin en die mees senior Russiese amptenare is bewus van en gee waarskynlik leiding aan Rusland se beïnvloedingsoperasies, wat bedoel is om die gewese Amerikaanse visepresident swart te smeer en openbare ontevredenheid voor die Amerikaanse verkiesing in November te bevorder.”

Onder meer word gewys op die moontlike rol van Andrei Derkatsj, ’n Oekraïense parlementslid, wat luidens die verslag (en volgens ander Amerikaanse staatsdepartemente) eintlik ’n Russiese agent is. Derkatsj handhaaf glo noue betrekkinge met Rudy Giuliani, ’n intieme bondgenoot en medewerker van Trump.

Verlede week het die direkteur van die FBI in die openbaar getuig sy mense volg “die baie aktiewe pogings” deur Rusland “om verdeeldheid en ontevredenheid te saai” en die doel is “hoofsaaklik om Joe Biden swart te smeer”.

In 2016 was daar ook bewerings uit die inligtingsgemeenskap dat Poetin en Rusland die verkiesing ten gunste van Trump probeer beïnvloed. Die konsensus destyds was dat daardie pogings beperkte sukses gehad het, maar dis onduidelik wat die uitwerking dié keer is.

Intussen het Trump vir die soveelste keer geweier om te sê of hy die Withuis sal ontruim as hy die verkiesing verloor. “Ons sal sien wat gebeur,” het hy laas Woensdag gesê.

Hy saai al lank twyfel oor die geloofwaardigheid van die verkiesing, wat op 3 November plaasvind. Hy beweer dat die grootskaalse gebruik van posstemme (miljoene Amerikaners wil weens die koronakrisis só stem) noodwendig tot yslike bedrog en korrupsie sal lei. (Desondanks het hy self reeds per pos gestem.)

Amerikaanse waarnemers berei hulle dus voor op ’n scenario waarin dit op die aand van stemdag sal lyk of Trump voorloop en dat hy dan die oorwinning sal opeis. In die dae daarna word die posstemme getel en moontlik kan Biden dan wen.

In só ’n geval, word gevrees, sal Trump weier om die Withuis te verlaat en hofsaak ná hofsaak begin om tog in die Withuis te bly.

Chaos, lyk dit, is Amerika se voorland.

Meer oor:  Wêreldburger  |  Leopold Scholtz.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.