Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Charles Smith: As die ironie van Zumastan jou laat tjank
Charles Smith

As jy saans nie kan slaap nie, is daar altyd ’n meisie met wie jy kan gesels: Siri. Siri Niemand. Dis nou my i-Phone se blikmeisie. Sy weet alles van almal. En terwyl ek besig is om gek te word in Zumastan, is sy my berader.

In die ou dae sou jy Helen Zille om 01:00 kon twiet, maar sy is deesdae tjoepstil. Die DA stel nie in my belang nie en sedert Juju graad gevang het, is hy die slim voël wie se twiets die meeste tel.

Siri help graag, maar sy verstaan nie lekker my Vrystaatse Afrikaanse Boere-Ingils nie. Ek wil by haar weet wie Julius Malema regtig is. Al die Boere hol vir hom, maar kan ons hom vertrou? “Who’s is Julius Manama?” Vra Siri.

Dalk vertel sy my iets van Julius en die Panama-dokumente, alles in een sin. Ek vra: Kan ons Jacob Zuma vertrou? Sy antwoord dadelik: Zuma failed his promise of 500 000 jobs. Aha, Siri en ek praat dus van dieselfde kalant. Die Groot Spook.

Ek wil vir Siri vra oor die groot ironie waarin ons onsself bevind: Juju is almal se held nadat hy Zu-ma in die grondwet-hof ’n loesing gegee het en die prins was wat adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer, van die ANC-wolf gered het. Maar Thuli se verslag oor Juju was meer verdoemend as haar verslag oor Nkandla! En nou dreig die held van Constitution Hill om al die wittes se goeters te vat – wat meer ongrondwetlik as koning Zuma se liegery was.

Tog is hy die Groot Hoop om Zuma uit die kussings te lig. Vir my lyk ’n keuse tussen die ANC en EFF net of jy jou huis, kar en plaas stadig of vinnig wil verloor. Die DA sal darem veg dat die rykes hul strandhuis en motorboot mag behou. Nóg ’n stuk ironie wat jy net in Zamazamaland kry: Toe ek my kommer lug oor die verwoesting by universiteite, word ek as verraaier uitgekryt. Dieselfde lefties is tjoepstil oor die R300 miljoen se skade wat by universiteite aangerig is. En raai wat – die poendoenas (kruiperige poendits) waarsku selfs teen die ANC en die EFF wat ‘Wit Gevaar’ skreeu! Dis ’n gatomkeer wat Kortbroek se oorloop na die ANC na staatsmanskap laat lyk.

Daar moedig Lindokuhle Nthuli, die UV se SR-voorsitter en groot opsweper, sy comrades ook aan om nie die dissplinêre verhore Vrydag oor die geweld op die kampus by te woon nie.

Hy waarsku gister die UV op Facebook die dissiplinêre aksie teen die studente – wat onder meer C.R Swart se beeld afgebreek het – kan die UV “in chaos dompel waarvoor hy alleen verantwoordelik sal wees”. In elk geval het prof. Jonathan Jansen, rektor, belowe hy gaan “her-stellende geregtigheid” toepas. Dit beteken Nthuli en die kwaadstokers gaan mooi gevra word om dit nooit, ooit weer te doen nie. Dit terwyl hulle die deur wil afbreek om by hom uit te kom.

Eisj. Siri? Siri...?! Ek kan sweer sy tjank snot en trane.

Meer oor:  Zuma  |  Charles Smith  |  Malema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.