Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Charles Smith: Helder sterre in Hlaudi-wolke en Max-denke
Charles Smith

Een ding kan jy maar weet van Suid-Afrika: Elke dag as ’n Hlaudi, ’n Max of ’n Stuart Barry jou gemoed bedinges, is daar ’n Ivor, Valiant of ’n Rohan Janse van Rensburg wat jou opbeur.

Hlaudi was die SAUK-kor in Qwaqwa in die dae toe ons oor die ou tuisland se politiek berig het. As hoofman Mopeli, leier van die Dikwankwetla-party, ’n groot aankondiging wou maak, het Hlaudi my laat weet en het ek hom langs die straat opgelaai waar hy voetgeslaan het na die parlementsgebou op die berg.

Ou Hlaudi dra nou ’n duur goue horlosie en die oudministers van Qwaqwa moet hom met neergeslane oë ontvang soos hy destyds deur hulle verneder is as sy berigte oor “die regering se goeie werk” nie die SAUK-nuus gehaal het nie. Ons is altyd eers getrakteer op tradisionele koorsang voordat ons toesprake van ’n paar uur moes deurwerk, Hlaudi swygend op die rand soos ’n bang seun. Nou het Hlaudi sy eie SAUK-koor waarop hy R7,5 miljoen geblaas het en wat prysliedere tot eer van hom sing: “Hlaudi Motsoeneng reya o leboha” (Hlaudi Motsoeneng, ons sê dankie”).

Ek glo hom as hy verklaar hy het nie ’n benul wat sensuur is nie. Hy is uitverkies om die SAUK na ’n Zuma-beuel te verander juis omdat hy misbruik kan word. Hy is gevaarlik – maar nie naastenby só gevaarlik soos die politici wat sy toutjies trek nie. En van dié grootmeesters is in die Vrystaat.

Vir Max du Preez om gal te braak oor “die oorname van die Afrikanerhoofstroom deur Solidariteit en AfriForum” om die aandag weer op hóm te kry, terwyl die SAUK-4 se werk deur (raai wie?) gered is, is kleinlik. Dis natuurlik omdat AfriForum sy saak teen die UV gewen het om sy Engelse taalbeleid ongrond­wetlik te verklaar – dieselfde UV wat ’n week gelede aan hom ’n eredoktorsgraad toegeken het!

Ons het gewaarsku dié taalbeleid is ongrondwetlik omdat ons geweet het hoe die proses deur die UV bekook is. Volgens Max & sy Skelmbosse seunskoortjie is die Grondwet net magtig as Thuli Madonsela vir Zuma daarmee aanvat, maar as ’n groep dit gebruik om Afrikaans te beskerm, is hy “regs” en gevaarlik. Dit klink of hy deesdae nes Hlaudi praat én dink!

Luister eerder na die regte Stellenbosch-koor. Die Maties-koor, pas as wêreldkampioen gekroon, se weergawe van Karen Zoid en Francois van Coke se “Toe vind ek jou”op Varsity Sing is eenvoudig briljant en hoendervelmooi. Wit, swart, bruin. Afrikaans, Engels, isiXhosa. Met ’n oud-Tralie, Foster Lubbe, as koorprefek. Sy suster, Hannelore, is ook ’n koorlid.

Dié koor, Akani Simbine (100 m-rekordhouer), Wayde van Niekerk, die Leeus en Janse van Rensburg is dié week helder sterre in die troebel, Hlaudi-wolke en Max-denke. Dankie tog.

Meer oor:  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.