Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Charles Smith: Voëlvlug van 50 jaar oor voëlvry land
Charles Smith

Ek is slegs agt dae ná die moord op dr. Hendrik Verwoerd, eertydse premier wat die beleid van “afsonderlike ontwikkeling” deurgevoer het, op 14 September 1966 in Aliwal-Noord se staatshospitaal gebore. Ek is ’n “seun” van Verwoerd, eerder as PW Botha, teen wie ons in die 1980’s gerebelleer het.

Ek word dus eersdaags 50. My verjaardag val saam met die herdenking van die Verwoerd-moord en die 50ste herdenking van die begin van die Grensoorlog. Die internet het ook pas 25 geword. Aan die vooraand van my geboorte is Balthazar Johannes (John) Vorster ná ’n routyd in wit Suid-Afrika as premier ingehuldig.

Ons sou later een van oom John se filterlose sigarette (dink dit was Gunstons) uit sy kamer in die dorp gaps waar hy by oom Kosie Pansegrouw, kommissaris-generaal vir Qwaqwa, oornag het. PW sou vir ons gluur waar ons op ’n osbraai ter ere van hom in Aliwal se warmwaterbronne van die hoë duikplank gespring het eerder as om na sy toespraak te luister. Jou omgewing maak van jou wat jy is totdat jyself vrae kan vra. Saans om 21:00 het ons in die koshuis geluister hoe die sirene afgaan wat beteken het alle swart mense moes padgee uit die dorp. Klein, wit skole het teen klein, wit skole meegeding. Ons het niks geweet van die duisende swart kinders in die township nie. Mandela se naam mag jy nie noem nie. Ons het vuis geslaan oor NP t. KP. Swart werkers het met karige besittings van plaas tot plaas getrek.

Ons swart maats op die plaas het ná skool verdwyn. Na myne, tuislande, townships. Plase. In die matriekvakansie het ons meisies ontmoet van ’n Engelse skool in Bloemfontein wat gemaklik met bruin seuns gekuier het. Ons het net daar kontak met hulle verbreek. Dit pla my steeds ontsettend. Ek het toe besef iets is moerse verkeerd in hoe ons dink, leef en doen.

Maar ek is ’n R4 in die hand gestop voordat ek kon dink. Wit en swart soldate moes apart in tente bly op die Grens terwyl ons teen swart “terroriste” veg. Ons is PW se leë Rubicon deur. Die donker laat 1980’s met die KP en AWB se beleg met townships wat brand en noodtoestande het gevolg. FW se 2 Februarie-spietse, Mandela se vrylating en in 1994 kon ek vir die ANC stem. Die eerste en laaste keer.

Ek is deur ’n AWB-boer in Senekal met ’n rewolwer teen die kop gedreig en in Lesotho met ’n mes teen die keel gekaap. Basotho-meisies het my na veiligheid gelei. Ek moes oor tot 30 plaasmoorde én talle ander moorde skryf. Ons familie moes ook die hoogste offers bring aan die land wat ons liefhet.

  • Dis my voëlvlug oor ons land van heuning en bloed. Niks is lekkerder as om saam met wit, bruin en swart as gelykes te werk nie. Dis ons grootste prestasie. Nou lê die werklike stryd vir vryheid voor. Vryheid van die verdrukking deur Zuma se derdemag in die einste ANC.Namens Volksblad se lesergemeenskap geluk aan onse Charles met sy 50 op 14/9. – Red.
Meer oor:  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.