Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Chase Rhys: Probee erge trauma ma ignore, ma it kom wee

Ek’s saam met Zainab innie lift. Sy neem my na hulle kantore toe ommie CEO my verhaal te wys wat ek voorberei het vi hulle company se 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld-campaign. Die kantore het floor-to-ceiling glasvensters, ek sien net vroumense wat oppie vloer wêk. Zainab lei my na ’n boardroom met ’n asemrowende panoramiese view vannie hele Kaapse CBD. Sy gaan haalie baas, maa voo sy ytloep, sê sy vi my, “Wiet jy, die CEO wil gladdie die GBV campaign doen nie, ons vra hom al heeljaar.” Toe Zainab my gekontak het om vi hulle iets te skryf en voor te lees, was ek hesitant. Hulle’t my ’n lekke ott geoffer, maa ek’t gevoel dattie geld en geleentheid aan ’n vrou moes gaan, ek’t self ’n lys van vroulike skrywers vi haa gestuu.

Zainab het insist dat ek die wêk doen. “Jy’s ’n man, julle perspektief is belangrik. GBV issie net ’n vroueprobleem nie, julle mans moetie stilbly nie.”

Ek’t nie verwag dat ek eers die CEO moet oortuig nie. Ek sit allien innie raadsaal en vryf my klam palms af op my rooi blazer wat ek altyd na interviews toe dra (my ma se raad is dat rooi klere krag gie).

Zainab hou die deur oep virrie CEO, hy ko soes ’n warrelwind in, sy hemp sit soe styf it squeeze sy nekvet larrit soese doily oo sy collar hang. Hy sit annie anne kant vannie massiewe mahogany-tafel.

“Righto, wie is jy?” Zainab antwoord: “Meneer, Chase is hier vir die 16 days of activism . . .”

“Oh ja,” nip hy vi haa. “Kyk, my werkers weet, ek stel glad nie belang in aktivisme nie.” Ek sien hy staar na my rooi klere. “Ek soek nie politiek in my besigheid nie.”

Die man dink sieke ek is deel vannie EFF. Zainab hou haa blik oppie tafel, sy praat saggies: “Dit gaan nie oor politiek nie, dis basic human rights, Meneer.”

“Waarom kry ons manne dan nie ook 16 dae nie?” Die CEO lig sy wenkbroue op asof hy nou iets diep gesêrrit. “Dit is deesdae nie maklik om man te wees nie,” sê hy en hy stuur vi Zainab om vi hom ’n take-away mochaccino te kry.

Die CEO staan op en kyk ytie venster yt. “Laat ek u nou sê, meeste besighede doen die tipe aktivisme vir show, vir bemarking, dit is onnodig. Hulle gee nie eintlik om oor vrouegeweld nie. Dit begin by die huis, ek het ’n vrou en dogters en ek lig nie my hande op vir hulle nie.”

Ek frons, ek mishandel oek nie vroue nie, maar ek gie nie voor asof daai tipe geweld nie aandag nodig hettie. Ek hettie lus gehad om nog conversation met soe ’n man te hou nie, soe ek’t gevra as ek maa my voorlesing kan doen.

Die CEO staan met sy rug na my toe terwyl ek lees. Dis ’n verhaal oor ’n jong seun wat sukkel om sy ma van haa beledigende man te red. Toe ek klaa is, draai hy om, allie kleur is yt sy gesig yt gedrain.

Al wat hy sê is: “Ek onthou.”

Soms gaan ôs deur traumatiese ervarings wat soe oorweldigend is ôs block it yt, en virrie res van ôsse lewe probee ôs dit ignoreer.

Zainab ko in mettie drinks. “Nou ja, gaan voort met die campaign,” sê die CEO vi haa, “en jy kan maar my koffie drink, Zainey.”

Zainab vat my trug af innie lift.

“Julle mans moet meer opstaan en ytpraat,” sê sy, “want julle luister na mekaar.”

Meer oor:  Chase Rhys  |  Suikewate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.