Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cheetahs durf plan saboteer
Gert Coetzee

Die Cheetah-model noem ’n vriend dit – die goeie kleintjie wat teen ’n oormag veg, maar dan geskroef word ten gunste van groottes wat nie die mas opkom nie. Dikwels in die rug.

Die stof het bietjie gaan lê oor die wyse waarop die Suid-Afrikaanse Rugbyunie sy sin gekry het deur toe te sien dat die Cheetahs ten gunste van die groter witbroodjie-rugbyspanne uit die nuwe Europese Pro16-rugbyreeks gelaat word, maar die graf groei nie toe nie.

Die Cheetahs meen hulle is wettig gekontrakteer om tot 2023 Pro14-rugby te speel en behou hul regte oor ’n hofgeding voor. Dus sal ’n mens moet sien.

Wat intussen wel repliek vra, is ’n suidelike hoofartikel waarin sito-sito met die Cheetahs afgereken word as dat hulle nie eintlik die mas in die Pro14 opgekom het nie. Die “ekonomie van die spel” tel ook glo teen hulle. Maar toemaar . . . daar ís vir hulle ’n plekkie in die son in Suid-Afrikaanse rugby. “En dit lê in die Curriebeker . . .”

Wie het in wie se oor gefluister?

Wie het in wie se oor gefluister?

As die redenasie konsekwent gevolg word, is die vraag watter waarde die Stormers, Bulle, Haaie en Leeus, almal gevestigde Superrugby-spanne, die laaste jare werklik tot dié Sanzaar-reeks bygedra het. En elk beleef maar sy ou probleempies – van skuld tot bakleiery oor ’n stadion en borge.

Oor die “ekonomie van die spel”: Ja, jou werklikwaar. Jy sny iemand se bene af en dan verwag jy hy moet op gelyke voet met ander deelnemers meeding.

Onthou, in die beginjare van Suid-Afrikaanse spanne se deelname aan Superrugby, in die 1990’s, is die Cheetahs opsluit saam met die Leeus geboender in een span, die sogenaamde sentrale Cats – deur The Citizen as die “unmitigated regional disaster” van Superrugby bestempel. Hoofkwartier? Johannesburg, natuurlik!

En waar sou die Bokke gewees het as Rassie Erasmus, Jacques Nienaber, Trevor Nyakane, Willie le Roux, Duane Vermeulen en Lood de Jager nie almal ’n Vrystaatse draai gemaak het nie?

Die gedwonge huwelik was gedoem, maar eers met die uitbreiding van die reeks tot die Super14 het die Cheetahs hul regmatige plek gekry. Maar moes met veel minder geld van die rugbybase as die liefling-provinsies klaarkom.

Kwantiteitsgewys het hulle dalk nooit die Superrugby-reeks gewen nie, maar kwaliteitsgewys hul kant gebring. Wat betref sprankelrugby eerder as die oogappels se hoogskop-en-hoop-vir-die-beste van jou pak oorgewig voorspelers. Met vyf reserwe-skrumskakels wat nooit kans kry om te speel nie, maar jy het hulle gaan stroop, want jy kan.

En wat bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby betref: Onthou die 66ste minuut van 2019 se Wêreldbeker-eindstryd in Japan. Daardie magiese oomblik toe Makazole Mapimpi die eerste Springbok-rugbyspeler geword het wat ’n drie in ’n WB-eindstryd gedruk het.

By watter span het jy die eerste keer Mapimpi se naam begin hoor? En waar sou die Bokke gewees het as Rassie Erasmus, Jacques Nienaber, Trevor Nyakane, Willie le Roux, Duane Vermeulen en Lood de Jager nie almal ’n Vrystaatse draai gemaak het en Frans Steyn en Cobus Reinach nie hul rugby by Grey-kollege geleer het nie?

Naas die Cheetahs se pionierswerk in die Pro14 is dit kortsigtig om hul relegasie as vanselfsprekend te begroet. Of spreek dié gerieflike veralgemening eintlik van skuldige verligting?

Natuurlik sê die swygende Saru die Cheetahs se weglating was nie eintlik hul besluit nie. Al was dit vooraf ’n uitgemaakte saak nes die Universiteit van die Vrystaat se besluite oor Afrikaans en die M.T. Steyn-standbeeld waarin ook “prosesse” gevolg is. Nou waag die Cheetahs nog om hul Curriebeker-wedstryde te wen, met ene Jake se spannetjie op hul kerfstok.

Hoe durf hulle die meesterplan so saboteer? Nee wat, sonder die Cheetahs waar hulle hoort, verloor Suid-Afrikaanse rugby fut. En die flou, aangedikte Chasing the Sun-reeks oor die span wat homself moes “redeem”, kikker dit nie op nie.

Meer oor:  Vrystaat  |  Cheetahs  |  Rugby  |  Rugbyspelers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.